top of page

Ma’s laat die wêreld draai!

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • Apr 28
  • 2 min read

Updated: May 1

Ma’s oor die algemeen is ‘n wonderlike spesie. Die Jode het ‘n spreuk wat sê: “Die Here kon nie oral wees nie, toe maak Hy ma’s.” Dis interessant hoe baie ma’s in gemeen het. Hulle kom op tye nie net supermenslik voor nie, maar hulle praat ook dieselfde taal. Dis ‘n taal wat in geen boek of woordeboek opgeteken is nie; dit word by geen universiteit geleer nie; maar alle ma’s ken blykbaar die dialek.


Klink die volgende miskien vir julle bekend:

“Moenie met my cheeky wees nie juffroutjie.”

“Wag net tot jou pa by die huis kom.”

“As jy jou been breek, moenie na my toe hardloop nie.”

“Waar’s my kleingeld?”

"Want ek sê so, dis hoekom!"

“Dis die laaste keer dat ek dit vir jou sê.”

En die laaste een: “Bel as jy daar aankom.” Ek 54 en ek moet nog steeds bel “as ons daar aankom”. 


In die oë van jou kinders is jy wonderlik, jy is hulle superheld, al sal hulle partykeer eerder wil doodgaan as om dit te erken.

Hoor bietjie hoe wonderlik het die seuntjie gedink sy ma is. Hierdie einste klein seuntjie het by die onderklere-afdeling van ‘n winkel ingestap en sy probleem aan die verkoopsdame gestel. “Ek wil graag ‘n onderrokkie vir my ma koop,

 maar ek weet nie wat se grootte sy dra nie.” Die verkoopsdame vra hom toe: “Is sy lank; is sy kort; is sy maer?”


“Sy’s net perfek,” het die seuntjie gestraal. Die verkoopsdame het toe vir hom ‘n 34 toegedraai. Twee dae later het die ma alleen winkel toe gekom en die onderrok omgeruil vir ‘n 48. ☺


Jy het dalk net nodig dat iemand vandag vir jou sê: Jy is okei! Ja, jy is nie perfek nie en maak dalk ‘n klompie foute, maar als-in-als is jy net wat jou kinders nodig het!!!

 

Comments


bottom of page