Digitale Verslawing: Wanneer is genoeg, genoeg?
- Janine Bevolo-Manders
- Aug 20
- 19 min read
Updated: Aug 21

Welkom by vandag se episode van Leef Lig. Vandag het ek ‘n hele mondvol om met julle te deel. Ek wil begin met iets wat onlangs wêreldwyd opslae gemaak het: Australië het pas ’n wet goedgekeur wat kinders onder 16 verbied om sosiale media-rekeninge te hê. Ja, jy het reg gehoor — platforms soos TikTok, Instagram en Snapchat sal binnekort nie meer toeganklik wees vir jongmense onder daardie ouderdom nie.
Die Australiesee regering se betrokkenheid by digitale gesondheid het die afgelope paar jaar toegeneem, en met goeie rede. Kinders en tieners is meer vatbaar vir die negatiewe impak van aanlyn platforms — nie net omdat hulle breine nog ontwikkel nie, maar omdat hulle emosionele wêreld gevorm word deur vergelyking, erkenning en verbondenheid – die gevoel dat ek iewers hoort.
Wat probeer die regering beskerm?
• Slaapversteurings: Skermgebruik voor slaaptyd onderdruk melatonien, dit versteur die sirkadiese ritme, en lei tot moegheid, konsentrasieprobleme en emosionele uitputting.
• Kuberafknouery: Sosiale media maak dit maklik om anoniem te kritiseer, uit te sluit of iemand af te breek. Die impak is nie net sosiaal nie — dit raak selfbeeld, angs en selfs selfdoodrisiko.
• Konstante vergelyking: Kinders sien die “hoogtepunte” van ander se lewens en begin glo hulle is nie goed genoeg nie. Dit lei tot depressie, eetversteurings en ’n gevoel van isolasie.
• Verslawing aan dopamien: Platforms soos Facebook, instagram, Tik Tok is ontwerp om dopamien-vloede te aktiveer — likes, klanke/notifications, flitse in die vorm van advertensies — leer die brein om hoë stimulasie te verwag en gewone lewe as vervelig te ervaar.
Ons is in der waarheid nie opgewasse teen die aanslae van tegnologie en sosiale media nie. Ons breine is eenvoudig nie ontwerp vir hierdie vlak van konstante stimulasie nie.
Die regering het gesê: genoeg is genoeg. En hulle beplan om dit streng te reguleer, met boetes van miljoene dollars vir platforms wat nie saamwerk nie.
Nou, of jy saamstem met dié besluit of nie — dit wys net hoe dringend en aktueel die gesprek oor digitale verslawing steeds is. Dis nie meer net ’n bekommernis vir ouers nie; dit raak ons almal. Vandag wil ek saam met jou delf in hierdie tema: hoe raak digitale verslawing ons geloof, ons verhoudings, en ons vermoë om teenwoordig te wees in ons eie lewens?
Kom ons begin.
Na oorlewering het die Grieke vir tien jaar die stad Troje probeer binneval, maar sonder sukses. Uiteindelik het Odysseus ʼn plan beraam. Aangesien perde vir die Trojane ʼn heilige dier was, het die Grieke uit hout ʼn reuse perd gemaak, en voorgegee dat hulle die perd daar laat as ʼn geskenk.
Toe die Trojane sien dat die Grieke almal weg is, het hulle die reuse perd die stad ingedra. Party het gewaarsku teen die perd, terwyl ander weer gesê het dit is mos skadeloos. Daardie aand het hulle ʼn groot partytjie gehou en te veel gedrink.
Die perd was egter binne uitgehol en binne-in versteek, was ʼn hele klomp van die Grieke se dapperste vegters. Teen middernag het hulle uitgespring, die wagte vermoor, en toe die poorte van die stad oopgesluit sodat die Griekse soldate die stad kon binneval.
Vandag het ons ʼn gesegde vir wanneer iemand ʼn vyand onwetend innooi tot in die veiligste deel van hulle bestaan, dan sê: ons “Hulle het die Trojaanse perd binnegenooi.”
‘n “Perd” wat beslis by ons ingeglip het en wat hier is om te bly, is tegnologie. Opsigself is tegnologie nie 'n slegte ding nie – dis rewolusionêr op soveel gebiede en het ons lewens op soveel gebiede verbeter en vergemaklik. So ons praat nie tèèn tegnologie nie. Hoor dit mooi. Tegnologie is ’n goeie dienaar, maar ’n gevaarlike meester. Ons kan natuurlik nie sonder tegnologie nie. Tegnologie is goed. Maar dit gaan oor die verslawende effek wat byvoorbeeld ons fone (Whatsapp, Facebook, Instagram en deesdae TikTok) en rekenaars (speletjies, pornografie, ensovoorts) op ons het. Die ironie is dat dit eintlik ‘n sosiaal aanvaarbare verslawing is.
Die punt is egter - ‘n verslawing bly ‘n verslawing want dieselfde deel van jou brein word aangetas.
Soos meeste verslaafdes bly ontken en bly ontken hulle het ‘n probleem, ontken jongmense én grootmense hulle is verslaaf aan hierdie “toestelletjie”. Dit is beslis nie net tieners wat hiermee ‘n probleem het nie, tot bejaardes deesdae het hulle eie “selfoon lingo”. As jy jou ma whatsApp om te vra wat maak sy? Dan kry jy dalk die volgende boodskap: BDD dit staan vir “By die dokter”; of LOB – “lê op bed”; of SEL – “sit en lees” of BVSB – “By vriend se begrafnis.”
En ek sê weer hierdie is nie net ‘n jongmens probleem nie. Ons ouer mense is ook verknog aan die oulike videotjies wat hulle oor en weer vir mekaar stuur en al die goeie mׅôre en goeie nag boodskappies. So dis beslis nie net ‘n jongmens probleem nie.
Ons spandeer ure elke dag op Facebook – as jy my ouderdom is en Instagram as jy jonger is. Ons is tog so bang om uit te mis op enige iets.
Daar is tot ‘n naam daar voor – hulle noem dit FOMO – fear of missing out
As jy weer by ‘n robot stop kyk na die mense in die karre om jou. Hoeveel mense sien jy met hulle oë vasgenael op hulle fone? Erger nog – daar is van ons wat dit doen terwyl ons bestuur!! As jy weer in ‘n restaurant is, kyk hoeveel mense is op hulle fone dan. En selfs in die kerk...
Kom ek verduidelik sommer dadelik hoekom ons sê ons raak verslaaf. Ons almal weet as jy verslaaf raak aan dwelms, dobbel, drank ensovoorts het dit ‘n baie negatiewe effek op jou lewe en op die lewe van die mense rondom jou. Nou ek het gesê – tegnologie raak ook ‘n verslawing – hoekom? Omdat dieselfde deel van jou brein aangetas word as in die geval van dwelms ens.
Kom ek veduidelik wat in jou brein gebeur...
Ons brein word letterlik oorlaai deur konstante blootstelling aan hoëstimulerende digitale aktiwiteite soos sosiale media, videospeletjies en binge-kykery.
Elke keer as ons iets geniet — soos bv as ons lekker lag, ’n goeie liedjie luister, of ’n drukkie kry — stel ons brein dopamien vry. Dis die chemiese boodskapper wat ons laat voel: “Dit was lekker. Doen dit weer.” Dis die goed-voel-hormoon.
Maar wanneer ons aanhoudend hoë vlakke van dopamien afskei deur intense digitale stimulasie (soos ure se gaming of TikTok), begin die brein homself verdedig teen die oorlading. Jou brein sê eintlik: Hokaai dis te veel, stop-stop!
Met ander woorde - wanneer jy aanhoudend die plesier sentrum van jou brein “flood” met dopamien, begin daar naderhand iets soos ‘n muur vorm.
Met die gevolg dat normale hoeveelhede dopamien nie meer in die plesier sentrum van die brein kan inkom nie.
Normale aktiwiteite soos buite speel, gesels, of ’n boek lees voel nie meer lekker nie. Die brein ignoreer dan die klein hoeveelhede dopamien.
Wat ‘n mens dan nodig het is om dinge te doen wat betekenisvolle hoeveelhede dopamien sal afskei wat die plesiersentrum van die brein sal bereik – so dit beteken meer en meer ure voor die rekenaarspeletjie of playstation of rekenaar of foon om daardie groter hoeveelhede van dopamien af te skei sodat jy voel jy geniet iets.
Die gevolg is ‘n vorm van depressie, want niks wat jy doen verskaf jou enige plesier nie.
Selfoon verslawing
Julle dit is eintlik scary hoe erg mense is oor hulle fone – kyk net om jou rond: dokter spreekkamers, restaurante, hospitale, in die hysbak, wanneer die skoolklok lui en al die kinders kom by die hek uitgepeul. Hulle is mos dadelik op hulle foon om te hoor waar het ma gestop. Hulle het verleer om net bietjie links en regs te kyk en – voila – hulle sal jou sien. Maar nee, hulle moet onmiddelik vra en behoede jou siel as jy nie al daar is nie, ne?
In ‘n studie wat gedoen is van hoe geheg mense is aan hulle fone, is gevind dat die persone wat deelgeneem het “lief is vir hulle fone”. Hulle brein het gereageer op die klank van hulle fone(of die foon gelui het of net gevibreer het) op dieselfde manier as wat hulle brein sou reageer op hulle kêrel of meisie, troeteldier. Vir sommige is hulle fone dalk nie ‘n verslawing in die ware sin van die woord nie, maar dit is ware liefde. Om dieselfde gevoel te hê vir jou foon as vir ‘n persoon is nogal ontstellend.
Vir baie mense het die selfoon nie net ’n plek in hul sak nie — dit het ’n plek in hul siel. Dis nie meer ’n toestel nie, dis ’n bykomstigheid van identiteit. Soos ’n ekstra ledemaat, ’n digitale prostese. Hulle gaan nêrens sonder dit nie — nie badkamer toe, nie kerk toe, nie selfs bed toe nie.”
Ons dra ons fone soos ons onderklere — altyd aan, altyd naby, en as ons dit vergeet, voel ons blootgestel. Dis nie meer ’n slimfoon nie, dis ’n “sielfoon:”.
Daar is selfs ‘n fobie om sonder jou foon te wees en hulle noem dit nomofobie. “Nomofobie — is nie net ’n modewoord nie. Dis ’n moderne angs versteuring. Studies wys dat mense fisiese simptome ervaar as hulle van hul foon geskei word: sweet, hartkloppings, selfs paniek. Dis asof die foon ’n deel van hul neurologiese landskap geword het.”
Hierdie prent wys hoe ons eintlik gevangenisse is van ons fone. Toe fone nog aan drade vas was, was die mens vry. Maar noudat ons fone mobiel is, is ons eintlik gevange, mense kan ons altyd in die hande kry.
Rekenaar speletjies
In die artikel: Caught in the Net: How to recognize signs of Internet addiction praat Dr Young oor Games en vra die vraag:
Kan mens regtig aan games verslaaf word? Beslis. Want dis ‘n kliniese impuls beheer versteuring, ‘n Verslawing - dieselfde as kompulsiewe dobbel.
Hulle sê dat 2 ure se gaming het dieselfde effek op die brein as om een lyn cocaine te snuif – dit verskaf dieselfde opwinding.
Vat ‘n kind se “game” weg – wat gebeur – hulle word kwaad, sommige geweldadig en depressief. Een van die mees destruktiewe simptome van video games is woede..... ..
Kom ek maak hier ‘n kantopmerking: Hoekom is ons as ouers bang om ons kinders se selfoon gebruik te beperk – ons is bang. Bang waarvoor? Bang vir ons kinders se woede. Ons soek nie konfrontasie, ons wil nie baklei nie, ons is moeg. Want vat ‘n kind se foon weg en dit maak hulle mal – mal van woede.
Maar jy gaan moet besluit wie is die kind en wie is die ouer in julle verhouding.
Maar wat nogal interssant is, is dat die gemiddelde ouderdom van ’n gamer eintlik heelwat hoër as wat mense gewoonlik dink! Die gemiddelde ouderdom van gamers wêreldwyd: is ongeveer 33 jaar. Ja, jy het reg gehoor. 33.
So, wat ons vir mekaar sê is: Gaming is nie meer net vir tieners nie. Dis ’n multigenerasie-stokperdjie — van kinders tot oumas wat Candy Crush speel. Die groei van mobiele speletjies en aanlyn platforms het dit vir mense van alle ouderdomme toeganklik gemaak.
Pornografie
Nog ‘n groter as verslawing as games is verslawing aan pornografie.
In die ou dae om toegang tot pornografie te kry, moes jy die kans vat om winkel toe te gaan en ‘n boek te gaan koop. Dikwels was die boeke in plasties of bruinpapier toe gewees. Maar almal het geweet wat se tipe boeke word so toegedraai. Sommige mans het ingeteken op ‘n tydskrif wat dan deur die pos afgelewer is. Alhoewel dit ‘n mate van privaatheid verskaf het, het die risiko steeds bestaan dat die tydskrif iewers in die huis gesien kon word. Of as ma die bed opmaak of die bediende onder die bed skoonmaak dan kom daar dalk ‘n boek of 2 uit wat jy dink jy weggesteek het. Nou alhoewel die risikos nie die verspreiding van pornografie gestop het nie, het dit die verspreiding darem stadiger gemaak en toegang beperk.
Dit alles het verander met die spoed en privaatheid van die Internet. En so ook die toename van die chemiese afhanklikheid aan pornografie. Dit klink dalk snaaks om te sê chemiese afhanklikheid aan pornografie, maar daar is gevind dat ‘n verslawing aan pornografie, is chemies feitlik identies as die van ‘n kokaien en heroin verslawing. Dis net die manier waarop dit “toegedien” word wat verskil. I.p.v. met ‘n naald of deur jou neus, is pornografie deur jou oë – die vensters van jou siel.
Die selfoon is die mees algemene manier waarop daar na pornografie gekyk word. Maar hoe daar ookal na pornografie gekyk word - of dit deur selfone, tablette, rekenaars of laptops is – die feit is - dis verspot-maklik om toegang daartoe te verkry.
Die nuutste 2025 statistieke wys dat: 80% van gebruikers wat pornografie webwerwe besoek, doen dit via hul selfoon.
Die gebruik van mobiele toestelle vir toegang tot pornografie het met 50% toegeneem oor die afgelope vyf jaar.
60% van seksuele inhoud op die internet word via selfone gekyk.
Die gemiddelde ouderdom van eerste blootstelling aan pornografie is nou 11 jaar oud, meestal via ’n slimfoon.
64% van tieners gebruik hul selfone om toegang tot pornografie te kry.
Wat beteken dit prakties?
Die selfoon is nie net ’n kommunikasietoestel nie — dit is ’n persoonlike portaal tot die mees private en dikwels problematiese inhoud.
Die diskrete aard van selfoongebruik maak dit makliker vir jong mense (en volwassenes) om pornografie te verbruik sonder toesig.
Hierdie tendens het ’n sielkundige impak: verhoogde risiko vir verslawing, verwronge sienings van intimiteit, en emosionele afstomping.
Die selfoon het die rol van die geheime kas oorgeneem — daardie plek waar mense hul donkerste geheime wegsteek. Maar anders as ’n kas, is hierdie een altyd in jou hand. Dis nie net ’n toestel nie, dis ’n venster na begeertes wat vorm gee aan die siel — soms sonder dat ons dit besef.
Ek weet - ek en jy dink miskien – my kind sal nie na sulke goed kyk nie – maar wat mens moet onthou tieners – ook joune se impuls beheer; hulle empatie en oordeel is nog onderontwikkeld. So dit mag lei dat hulle hulleself bevind op webtuites wat gevaarlik is en wat ‘n volwassene sal weet om van weg te bly, maar jonmense nie. Tieners is ook baie nuuskierig wat maak dat hulle rondkrap waar hulle nie moet nie. Hulle het ook ‘n hiperaktiewe risiko- en beloning sisteem wat maak dat hulle makliker verslaaf raak as volwassenes.
Tieners is nie gebou vir selfbeheersing nie — hulle’s gebou vir ontdekking. Dis hoekom ’n foon sonder grense soos ’n snoepwinkel sonder toesig is.”
Die wêreldwye pornografiebedryf word tans geskat tussen $58 miljard en $287 miljard per jaar.
Platforms soos OnlyFans genereer meer as $6.6 miljard in jaarlikse inkomste.
Virtuele realiteit (VR) pornografie is ’n groeiende segment, met ’n verwagte waarde van $19 miljard in die komende jare.
Soekgedrag en internetverkeer
Ongeveer 30% van globale internetverkeer hou verband met pornografiese inhoud.
1 uit elke 5 internetgebruikers wat volwasse inhoud kyk, is vroulik.
Pornhub was in 2024 die 6de mees besoekte webwerf ter wêreld, met meer as 5.6 miljard besoeke in een maand.
Wat is die Sielkundige impak?
Gereelde gebruik van pornografie is gekoppel aan verhoogde vlakke van depressie, angs en stres, veral onder jong volwassenes.
’n 2020-studie het bevind dat 45% van pornografiese video's ten minste een daad van fisieke aggressie bevat.
Hierdie syfers wys hoe diepgewortel en wydverspreid die verskynsel is — en dit onderstreep die belangrikheid
Daar word by die 3 biljoen dollar ‘n jaar aan Internetpronografie bestee. 1 uit 5 soektogte is na pornografie op die Internet. Dis nie ‘n oordrywing om te sê dat as jy nie jou selfoon wys en verantwoordelik gebruik nie kan dit so maklik lei tot verslawing.
Multi-tasking verslawing
Jy weet hoe dit is – jy gaan sit om ‘n voorlegging voor te berei of ‘n verslag te skryf of jou Wiskunde te doen en dan begin jou foon beep.
Natuurlik is jou foon baie meer opwindend as die taak waarmee jy nou net begin het, so met die presisie van ‘n cowboy wat sy rewolwer uitpluk, is jy by jou foon en binne ‘n sekonde is jy besig om met iemand te praat.
Na jy klaar gepraat het vra jy jouself: Ok, waar was ek nou weer? Na ‘n minuut of 2 wat jy jouself net weer wil laat herfokus begin jy met jou projek. Na ‘n paar minute wat jy ‘n paar goed neergeskryf het, hoor jy ‘n epos inkom. Weer is jy soos daardie cowboy. Jy voel nou redelik goed want jy het gou reageer op die epos en jy het aan jou projek gewerk. Of het jy?
“Multi-tasking” is ’n mite — jou brein “task switch”
- Neorowetenskaplikes het bevestig dat die brein nie werklik kan “multi-task” nie. Wat ons doen, is taakwisseling — ons spring vinnig tussen verskillende aktiwiteite.
- Hierdie wisseling kom met ’n biologiese koste: dit gebruik meer glukose en suurstof in die brein, wat jou vinniger moeg maak en jou fokus verswak.
- Studies toon dat produktiwiteit kan daal met tot 40% wanneer jy tussen take wissel in plaas van om een op ’n slag te voltooi.
- Inligting wat geleer word tydens “multi-tasking” word nie korrek gestoor nie — dit beland in die “verkeerde deel” van die brein, wat geheue en begrip benadeel.
- ’n Studie deur die Instituut Van Psigiatrie in Londen het bevind dat werkers wie se aandag voortdurend afgetrek word deur e-posse en oproepe, ’n IK-daling van 10 punte ervaar het.
- Dit is meer as dubbel die impak van dagga, wat gemiddeld ’n 4-punt daling veroorsaak.
- Die effek is vergelykbaar met ’n hele nag se slaapverlies — en dit beïnvloed konsentrasie, besluitneming en kreatiewe denke.
Ons dink ons is produktief wanneer ons alles tegelyk doen — maar ons brein is nie ’n sirkus nie. Dis nie gemaak vir plate-spin nie. Elke keer wat ons spring tussen WhatsApp, e-pos, en ’n gebed, verloor ons nie net tyd nie — ons verloor ons helderheid. En soms, ons menslikheid. Wanneer ons ook so spring van die een taak na die volgende verlaag ons ons brein se vermoeë om diep te dink en kreatief te wees.
Ek wil jou vertel van ‘n fassinerende studie wat regtig insig gee in hoe subtiel tegnologie ons brein beïnvloed, selfs al gebruik ons dit nie aktief nie.
Die studie het gewys dat die fisiese teenwoordigheid van ’n selfoon — al is dit afgeskakel, stil en omgedraai — kognitiewe prestasie merkbaar verminder.
Hier is hoe die studie gewerk het:
Die navorsers het 548 deelnemers in drie groepe verdeel:
1. Selfoon op die lessenaar (afgeskakel en stil)
2. Selfoon in ’n sak of handsak
3. Selfoon in ’n ander vertrek
Almal het dieselfde kognitiewe toetse voltooi — probleemoplossing, geheue, en fokus.
Die resultate:
• Die groep met die selfoon op die lessenaar het die swakste gevaar.
• Die groep met die selfoon in ’n sak het effens beter gevaar.
• Die groep met die selfoon in ’n ander kamer het die beste gevaar — hul breinfunksie was merkbaar hoër.
En hier’s die verrassende deel: die meeste deelnemers het gedink die selfoon het geen invloed gehad nie. Maar die brein het anders gewys.
Die navorsers het verduidelik dat die selfoon — selfs af en buite sig — steeds “kognitiewe kapasiteit steel” omdat dit in ons “privileged attentional space” leef. Dis soos om jou naam te hoor in ’n skare — jou brein reageer, al wil jy nie.
Facebook verslawing
Hoeveel ure ‘n week spandeer jy op Facebook/instagram? Net soos in die geval van whatsupps – elke keer as jy ‘n like of ‘n kennisgewing kry stel jou brein dopamien vry – dis dieselfde neorotransmitter wat vrygestel word as ons dwelms sou gebruik – dis verslawend.
Die gemors is ons begin ons selfwaarde koppel aan hoeveel likes ons kry as ons iets post......
Snaaks hoe daar ‘n stigma is aan dwelm verslawing en alkohol-, maar digitale verslawing is half aanvaarbaar want almal doen dit. Tog is dit net so chemies verslawend as wat harde dwelms is.
1 Kor.6:12 Daar is mense wat sê: "Alles is my geoorloof." Ja, maar nie alles is heilsaam nie. "Alles is my geoorloof," sê hulle. Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie.
Wat duidelik is is dat ons die vryheid het om alles te geniet maar wanneer iets beheer oor ons kry en ‘n houvas oor ons kry dan het ons die lyn gekruis van goeie geestelike en fisiese gesondheid. Wanneer iets mag oor ons het en ons word soos ‘n slaaf aan ‘n meester, kom ons wees dan eerlik – dan is ons besig om te sondig. Die Here is nie teen tegnologie nie. Hy is teen die dinge wat ons geestelik, fisies, emosioneel, intelektueel en verstandelik sal benadeel. Die Here is teen enige iets wat jou van Hom af weghou.
Dit vat net ‘n uur
Die brein is wonderlik maar ook broos. Daarom moet ons balans aanleer. Na ‘n uur van rekenaar gebruik, ongeag die digitale aktiwiteit (of dit is om iets te skep of te speel), word die adrenale stelsel oor die rand gedruk, wat die risiko verhoog om angstigheid, depressie, diabetes, slapeloosheid en hoë bloeddruk te ervaar. Die brein kan net soveel digitale stimuli vat - dan moet dit ‘n breek hê
Die beste babaoppasser ooit
Dis te verstane dat mense selfone, ipads; tablette, en rekenaars gebruik om hulle kinders besig te hou. Ouers werk en dis die goedkoopste en betroubaarste baba-oppasser.
Ons stop ‘n selfoon of tablet in ons kinders se hande om hulle kalm en rustig te hou en ons vrees as ons dan op ‘n stadium die toestel uit hulle hande moet vat.
Gemiddelde daaglikse skermtyd per ouderdomsgroep:
• Kinders onder 2 jaar: ±1 uur en 3 minute per dag
• Kinders tussen 2–4 jaar: ±2 uur en 8 minute per dag
• Kinders tussen 5–8 jaar: ±3 uur en 28 minute per dag
Die meeste van hierdie tyd word aan TV en video’s bestee — gemiddeld 1½ uur per dag. Maar dit sluit ook ander vorme van digitale media in, soos kort video’s, speletjies en opvoedkundige apps.
Navorsing wat gedoen is het gewys dat wanneer klein kindertjies vir lang tye aan die vinnig veranderende beelde van die TV blootgestel word – gedurende hierdie kritiese tyd van brein ontwikkeling - word hulle breine geprekondisioneer om hierdie hoë vlakke van “input” te verwag – en dit lei dan tot gebrek aan aandagspan later in hulle lewe.
Die vinnig veranderende beelde en hoë vlakke van visuele stimulasie “herbedraad” die brein, wat beteken dat kinders se breine begin verwag dat alle inligting so vinnig en intens sal wees.
Dit kan lei tot:
• Korter aandagspan
• Vertraagde taalontwikkeling
• Verminderde vermoë om sin te maak van narratief of storielyn
• Swakker sosiale interaksie, omdat kinders nie leer deur gesigsuitdrukkings en geselskap nie, maar deur passiewe kyk
Hulle het bv. vir kinders ‘n video clip gespeel van Baby Einstein en gevind dat die kinders nie probeer sin maak uit die storie nie, (want hulle kan nie) maar net gefasineer is deur die vinnig veranderende beelde en die verhoogde stimulasie.
M.a.w. al kyk hulle aandagtig na die opvoedkundige video leer hulle niks. Hulle word net vermaak. En daar sal later ‘n prys te betaal word.
Jy gaan dalk nie van die volgende hou nie, maar die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie beveel aan dat kinders onder 2 jaar geen skermtyd moet hê nie. Dis waar hulle weer die Tupperkas en die potte en deksels weer moet ontdek.
Navorsing wys dat hoe meer kinders voor die ouderdom van 3 TV kyk, hoe meer geneig is hulle om aandag afleibaar te wees as hulle ouer word. Vir elke uur televisie per dag wat kinders tussen 1 en 3 jaar oud kyk, verhoog hul risiko om op 7-jarige ouderdom aandagprobleme te hê met ongeveer 10% Elke uur se TV is soos ’n suikerbom vir die brein: vinnig, lekker, maar nie voedsaam nie.
Aan die anderkant is gevind hoe meer ‘n kind kognitief gestimuleer word, hoe meer neem hulle kans om aandag afleibaar te wees af. Sulke aktiwiteite is bv. ouers wat vir kinders lees, sing, saam gan stap of museum toe vat.
Daar is nog soveel om te sê – maar mag ons meer ingestel raak oor hoeveel tyd neem ons digitale toestelle van ons lewens op. En as ons besef, maar dis dalk ‘n probleem in my lewe dat ek intensioneel sal wees en iets daaraan doen. Al dink jy dis nie so erg nie – meeste van ons is skuldig aan ongeskiktheid – al ons nie verslaaf is nie....
Ons leef in ’n wêreld van apps: vir gesondheid, vir produktiwiteit, vir gebed selfs. Maar daar’s een app wat nie in die App Store is nie — en dis die een wat ons die meeste nodig het. Ons noem dit Respek. Dis wanneer jy jou foon neersit, jou oë op iemand rig, en sê: ‘Ek sien jou. Jy’s belangrik.’”
My een vriendin sê tot haar hond raak vies vir haar as sy in die aande haar foon optel. Hy sal by haar lê, maar die oomblik wat sy haar foon optel dan staan hy op, loop weg. En gaan lê elders. Nou dit sê baie as tot die hond kan aanvoel, jou aandag is nou op ‘n ander plek.
Al die toestelle lei ook grootliks tot isolasie – ons kan as gesin saam om die kombuistafel sit – maar as pa op sy rekenaar is; ma op haar tablet besig met Pinterest; sussie met oorfone in haar ore en boetie op sy foon – raak ons geisoleer – ons is saam, maar nie saam nie. Ons kan saam wees onder een dak maar elkeen is in sy kamer besig op een of ander toestel – dan is ons nie regtig saam nie. Ons raak “disconnected”. Dit is nie God se plan vir ons gesinne nie. Die Here het ons gebou vir verhoudings – “face-to-face” verhoudings.
En bowe dit alles het Hy ons gebou vir ‘n verhouding met Hom en die goed steel ons weg van Hom en God sê eintlik: Ek wens jy kon soveel tyd, of net ‘n deeltjie selfs van die tyd wat jy aan die selfoon spandeer het aan my spandeer.
Kom ek deel met jou 5 Wenke:
1. Hou selfone uit kinders se slaapkamers. Jy gaan dink ek is belaglik – maar as ons dit nie doen nie, is daar gevolge.
Navorsing toon dat selfoongebruik voor slaaptyd wel verband hou met:
• Slapeloosheid en verminderde slaapkwaliteit
• Vertraagde slaaptyd — kinders sukkel om af te skakel ná stimulasie
• Versteurde melatonienproduksie — blou lig van skerms onderdruk die hormoon wat slaap reguleer
• Oorstimulasie van die brein — veral deur speletjies, sosiale media of aksiebelaaide inhoud
Kinders se breine is meer sensitief vir blou lig as volwassenes s’n, en hulle het meer slaap nodig vir gesonde ontwikkeling, konsentrasie en emosionele regulering..
2. Stel aanlyn firewalls en beperk data
Is dit realisties? Ja — en noodsaaklik.
• Moderne ouers het toegang tot betroubare ouerbeheer-apps soos Qustodio, Bark, en Net Nanny wat webwerwe blokkeer, skermtyd beperk, en selfs sosiale media-interaksies monitor.
• Firewalls en VPN’s op tuisnetwerke kan help om onvanpaste inhoud te blokkeer en privaatheid te beskerm.
• Maar: geen tegnologie vervang die ouer-oog en gesprek nie. Dit is ’n hulpmiddel, nie ’n waarborg.
3. Tieners is bedraad om te eksploreer — moenie onrealistiese verwagtinge hê nie
• Neurowetenskap wys dat tieners se dopamienstelsel en risiko-bewustheid nog ontwikkel — hulle soek opwinding, erkenning en grense om te toets.
• Daarom werk regulering beter as verbod. Gebruik apps en internetverskaffers se instellings om toegang te bestuur, maar bou ook vertroue en gesprek.
• ’n Goeie metafoor: Moenie die hele wêreld toemaak nie — bou eerder ’n veilige tuin waarin hulle kan speel.
4. Stel ’n kontrak op
Baie effektief — mits dit saamgestel word saam met die kind.
• ’n Digitale familie-ooreenkoms gee struktuur én geleentheid vir gesprek. Jy kan gebruik maak van templates soos dié van ConnectSafely of Modern Parenting Solutions.
Voorbeelde:
• Geen fone aan die etenstafel
• Slegs 1 uur op sosiale media ná huiswerk
• Foon word vir 24 uur weggevat indien reëls oortree word
• Wat belangrikis, is: konsekwentheid en deernis. Die kontrak moet nie straf-gebaseer wees nie, maar eerder ’n uitnodiging tot verantwoordelikheid.
5. Die een is baie belangrik. Stel ’n gesonde voorbeeld. Dis krities belangrik. Onthou monkey see, monkey do.
• Kinders leer nie net deur wat jy sê nie — maar deur wat jy deel/share, dit wat jy like, en dit wat jy ignoreer.
• Studies wys dat ouers se sosiale media-gewoontes direk beïnvloed hoe kinders hul eie aanlyn identiteit vorm.
• As jy iemand afkraak of sarkasties is aanlyn, sal jou kind daardie toon internaliseer. Maar as jy respek, empatie en selfbeheersing modelleer, leer hulle dit ook.
6. Oorweeg ’n dom-foon. Kry mens nog sulke goed? Ja, jy kry. Dis ‘n slim besluit vir sekere fases van ontwikkeling. ‘n “Dom-foon” verminder:
* Sosiale media-verslawing;
* Oorstimulasie;
* Toegang tot onvanpaste inhoud
* Dit leer kinders verantwoordelikheid sonder die risiko’s van slimfone.
Dink bietjie: Jy gee nie die kar se sleutels vir jou kind as hulle 18 is en sê: Jy kan nou maar ry nie. Nee, daar is eers ‘n hele proses wat hulle moet deurgaan. Hulle moet eers hulle leerlinglisensie kry. Dan daarna spandeer jy deesdae baie geld aan bestuurslesse. En dan vat die Instrukteur jou kind om hulle lisensie te kry as hulle eers kan bewys hulle kan versigtig ry.
Maar iets wat ook baie verantwoordelikheid verg en baie gevaarlik kan wees, indien dit nie reg gebruik word nie – ‘n selfoon – die stop ons sommer net in hulle hand en gee hulle geen begeleiding of stel enige reëls daar nie. Dis onverantwoordelik van ons as ouers. Ons pluk vir ons gatte ‘n lekker lat. Ons gaan die vrugte later pluk, indien ons ons kinders nie begelei om verantwoordelik met hulle selfone om te gaan nie.
Ons fone het stil-stil die plek begin inneem wat stilte, gebed en teenwoordigheid eens gevul het. Dis nie net ’n toestel nie — dis ’n afleier, ’n metgesel, en ja, soms ’n afgod. Die vraag is nie net ‘waar is my foon?’ nie — maar ‘waar is ek, as ek sonder hom is?
Die vraag is nie net ‘Is my kind reg vir ’n foon?’ nie — dis ‘Is ek reg om hulle te begelei?’ Mag jy vandag die moed hê om nie net slim te wees nie, maar sorgsaam. En mag jou kind nie net ’n foon hê nie — maar ’n anker van liefde, leiding en lig.
Kom ons almal wees mees sorgsaam en intensioneel wanneer dit kom by ons fone – dat ons nie ‘n slaaf word van ons fone nie.

Comments