top of page

Jou Superkrag: Gefokusde aandag

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • Sep 3
  • 10 min read

Weet jy wat is vandag se dae jou Superkrag? Gefokusde aandag.


ree

Ek weet nie van jou nie, maar ek sukkel nog steeds om te keer dat hierdie klein toetseltjie—ja, my foon—nie my hele lewe oorneem nie. So baie van my werk gebeur op die foon, en dis handig, ja… maar ook gevaarlik. Want hoe trek ’n mens ’n streep? Hoe beheer jy jouself sodat jy gesonde, goeie gewoontes ontwikkel rondom jou digitale gebruik?


Dis die vraag waarmee ek al ’n hele ruk stoei. En daarom lees ek daaroor, dink daaroor, en probeer beter gewoontes in plek sit. Want kom ek vra jou eerlik: het jy al van daardie dae gehad waar jy aan die einde voel jy was ongelooflik besig—jy’t e-posse geantwoord, WhatsApps gestuur, op versoeke gereageer, dalk selfs in drie vergaderings gesit—maar as jy mooi dink, het jy niks nuuts geskep nie? Jy’t niks bedink wat jou regtig trots maak nie. Jy’t nie iets gedoen wat jou nader aan jou roeping bring nie.


Jy was besig, ja… maar nie betekenisvol nie.


Dis die moderne illusie van produktiwiteit. Ons word verneuk om te dink ons het baie gedoen, om te voel ons het baie vermag, maar eintlik het ons net ons aandag uitgegee aan ander mense se prioriteite. En dis presies waarby ons vandag gaan stilstaan.


Dis iets wat my regtig interesseer, en wat my oë weer bietjie laat oopgaan het. Want ek wil nie net werk nie — ek wil werk wat sin maak. Ek wil nie net besig wees nie — ek wil teenwoordig wees. En ek hoop iets in vandag se gesprek resoneer met jou, en help jou soos dit my help.

Ons gaan gesels oor hoe om te werk met diep konsentrasie en volle aandag. Want hier’s die waarheid: om diep gefokus te werk is nie net ’n vaardigheid nie — dis deesdae ’n superkrag. En soos enige superkrag, moet dit geoefen word. Dis soos ’n spier — jy bou dit met herhaling, met ritme, met weerstand. En nee, dit gebeur nie vanself nie. Veral nie in ’n wêreld wat jou aandag wil koop, aflei en versplinter nie.


Ons leef in ’n wêreld wat ons aandag versplinter. Selfone ping, e-posse stroom in, WhatsApp-groepe roep ons naam, en ons voel gedurig asof ons moet reageer. Maar wat as ek vir jou sê: as jy regtig produktief wil wees, lê dit nie in harder werk nie, maar in stiller, slimmer werk?

Ek het Cal Newport se boek Deep Work onder oë gehad, en daarin het ek ’n klomp juwele ontdek wat ek vandag met jou wil deel…


Hy sê diep werk is die vermoë om sonder enige afleiding op ’n kognitief, veeleisende taak te fokus. Dis daardie tipe werk wat jou toelaat om jou hoogste vlak van kwaliteit en doeltreffendheid te lewer. Dis nie net slim werk nie—dis betekenisvolle werk.


En dan is daar die teenoorgestelde: oppervlakkige werk. Dis daardie nie-veeleisende take wat ons dikwels onderbreek met afleidings—soos om e-posse te beantwoord, in vergaderings te sit waar niemand regtig weet hoekom hulle daar is nie, of om net weer vinnig op Instagram te gaan kyk. Oppervlakkige werk skep selde nuwe waarde. En dis maklik om te kopieer. Niemand gaan jou ooit vra: “Sjoe, hoe het jy daardie e-pos so uniek beantwoord?” nie.


Die ding is, hierdie manier van diep werk raak al hoe skaarser in ons hiper-verbinde wêreld. Maar dit word ook al hoe meer waardevol. Die mense wat leer om dit te doen—om regtig te fokus en te verdiep in hul werk—hulle floreer. En dié wat nie, sukkel om relevant te bly

Want kyk, ons leef in ’n tyd van outomatisering, kunsmatige intelligensie, globalisering… En dit beteken dat roetine-take, oppervlakkige werk, al hoe meer deur rekenaars oorgeneem word. As jy wil uitstaan, moet jy iets kan doen wat nie maklik geoutomatiseer kan word nie. Jy moet die vermoë hê om komplekse dinge vinnig aan te leer, en uitsette van ’n hoë vlak te lewer—sowel in kwaliteit as spoed. En albei vereis intense konsentrasie.


Dink aan ’n sagteware-ingenieur wat ’n nuwe programmeringstaal bemeester. Of ’n sakebestuurder wat ’n unieke bemarkingstrategie ontwikkel. Of ’n skrywer wat ’n komplekse, kreatiewe manuskrip skep. In al daardie gevalle is oppervlakkige werk eenvoudig nie genoeg nie.


u multitasking… dit klink slim, né? Dit laat ons voel asof ons alles tegelyk aanpak. Maar hier’s die waarheid: jou brein kan nie multitask nie. Neurowetenskap wys dat wat ons “multitasking” noem, eintlik net vinnige taakwisseling is. Jou brein skakel nie parallel tussen take nie—dit spring heen en weer. En elke keer as dit spring, verloor jy fokus, energie en akkuraatheid.


Ek het al probeer om ’n e-pos te tik, ’n Zoom-vergadering te volg, en intussen my kind se wiskunde-huiswerk te help. Teen die einde het ek vir my baas gesê “x = 7” en vir my kind “sal jy asseblief daardie verslag teen Vrydag stuur?” Multitasking? Nee. Dis chaos met ’n WiFi-verbinding.

Ons dink ons multitask soos ’n rekenaar. Maar ons brein is meer soos ’n ou tannie met ’n pen en ’n notaboekie—sy wil een ding op ’n slag doen, en sy raak vies as jy haar onderbreek.


Cal Newport gebruik die term “attention residue”—die oorblywende aandag van die vorige taak wat jou huidige taak binnedring. Jy begin nie vars nie. Jy begin met ’n brein wat nog vasgevang is in die vorige ding. En dit maak jou moeg, gefrustreerd, en dikwels ontevrede met jou werk.

Maar wanneer ons dit regkry om ons so te verdiep in ons werk sonder afleidings, gebeur daar iets op drie vlakke.


Eerstens, neurologies. Wanneer jy jouself so verdiep dat jy amper in jou werk verlore raak—jy verloor skoon tred van tyd—dan noem hulle dit “flow”. Jou brein is op sy gelukkigste en mees produktiefste wanneer jy in flow is. Dis vreeslik vervullend. Jou brein skei dopamien en ander “geluk”-chemikalieë af, wat jou ’n gevoel van bevrediging en energie gee. Dis neurologies gesond en betekenisvol, want ons brein is nie gemaak vir konstante afleiding en oppervlakkige stimuli nie. Inteendeel.


Tweedens, psigologies. Mense het deur die eeue betekenis gevind deur iets tasbaar en waardevol te skep: ’n meubelmaker wat ’n tafel bou, ’n kunstenaar wat ’n skildery voltooi, ’n skrywer wat ’n manuskrip afrond. Selfs al is baie van ons werk vandag digitaal en onsigbaar, geld dieselfde beginsel: wanneer jy jou volle aandag gee om iets moeiliks en waardevols te skep, ervaar jy trots en doel. Oppervlakkige werk bring selde daardie gevoel, want dit laat nie ’n duidelike, blywende spoor van waarde nie. Psigologies gesproke voel ons meer vervuld as ons soos vakmanne met ons tyd en talente omgaan—deur diep werk te doen.


En dan, derdens, filosofies. Wanneer ons ons aandag ten volle aan iets betekenisvol gee, grond dit ons in die werklikheid. Dit anker ons lewens in tasbare prestasie, eerder as oppervlakkige afleiding. Dis soos om weer te voel: “Ek het iets gedoen wat saak maak.” Nie net iets afgehandel nie, maar iets geskep. Iets wat bly.


Nou kyk, as ons praat van mense wat weet hoe om te fokus, dan moet ons net vir ’n oomblik stilstaan by Bill Gates. Een van die mees produktiewe en invloedryke mense van ons tyd. En weet jy wat hy twee keer per jaar doen? Hy trek homself heeltemal terug vir wat hy noem ’n “Think Week”. Hy gaan na ’n afgeleë houthut—geen internet, geen personeel, geen afleiding. Hy lees. Hy dink. Hy skryf idees neer. En uit daardie stil weke het sommige van Microsoft se grootste strategiese rigtings ontstaan. Nie in ’n vergadering nie. Nie in ’n Zoom-oproep nie. In stilte.


En dan, as jy dalk ’n Harry Potter-aanhanger is, sal jy hierdie een geniet. Terwyl J.K. Rowling aan die laaste boek gewerk het—Harry Potter and the Deathly Hallows—het sy gesukkel om genoeg stilte en fokus te kry. Sy het reeds bekendheid gehad, media-verpligtinge, ’n gesin… alles wat haar aandag verdeel het. Uiteindelik het sy besluit om in ’n luukse hotel in Edinburgh in te check, net om die boek klaar te kry sonder afleidings.


Nou hoekom vertel ek jou dit? Want hierdie voorbeelde wys vir ons iets belangrik: diep werk gebeur nie toevallig nie. Jy moet dit doelbewus beskerm. Jy moet dit struktureer. Jy moet plek maak vir dit.


Dis die hart van deep work: om jou brein die ruimte te gee om te dink. Om nie net te reageer nie, maar te skep. Om nie net te werk nie, maar te vorm.


Greg McKeown sê dit so mooi in sy boek Essentialism: “If you don’t prioritize your life, someone else will.” En dis waar gefokusde werk jou vrymaak. Wanneer jy leer om jou aandag te rig—om afleidings doelbewus uit te skakel en jou energie op een ding te plaas—dan gebeur iets merkwaardig. Jy kry meer gedoen in minder tyd. Maar jy kry nie net werk gedoen nie. Jy kry jou lewe terug.


James Clear, wat Atomic Habits geskryf het, wys hoe klein gewoontes groot impak het. Net om jou foon vir ’n uur af te sit, of om jou dag in blokke te beplan, kan jou brein help om in ’n ritme van fokus te kom. En daardie ritme bring nie net produktiwiteit nie—dit bring vrede.


Onthou, om te konsentreer is soos ’n spier wat jy moet oefen. As ek en jy voortdurend toegee aan afleidings, verswak ons daardie “konsentrasie-spier”. En in vandag se wêreld is dit asof ons bang is vir verveling. As daar net ’n gaping is—jy wag in ’n tou, sit in die verkeer, selfs net ’n 30 sekonde breuk—dan gryp ons ons fone. Hierdie konstante dopamien-afskeiding leer jou brein om die heeltyd iets nuuts te verwag. En dit maak dit moeiliker om vir langer tye te kan fokus.


As jy diep werk wil doen, moet jy jou brein weer leer om verveeldheid te kan hanteer sonder om daarvan te probeer ontsnap. Besluit byvoorbeeld: jy gaan net om 11:30 en 16:00 na jou e-pos kyk. Dit leer jou brein dat onderbrekings is nie konstant nie—dit word beheer.


Die doel is nie om verveling uit te skakel nie, maar om eenvoudig daarmee te sit. Om dit te verdra. Wanneer jy onrustig voel—terwyl jy in ’n ry wag, of tussen take deur—moenie dadelik jou foon gryp nie. Bly net teenwoordig. Deur daardie drang te weerstaan om elke keer jou nuuskierigheid of lus vir stimulasie te bevredig, herbedraad jy jou brein om stilte en eentonigheid te aanvaar.


En dis belangrik, want diep werk voel dikwels aanvanklik vervelig. Die volgehoue inspanning gee nie konstant iets nuuts nie. Maar die beloning kom later. Ons het nodig om “verveeld” te wees met tye, want dit help ons om kreatief te wees.


Nog iets wat Cal Newport ons leer, is iets wat hy noem “produktiewe meditasie”. Dis eenvoudig: terwyl jy loop, draf, stort—kies iets waaraan jy tans werk, iets waarmee jy sukkel. En dink daaroor. As jou gedagtes begin dwaal, bring dit terug na die probleem. Oor tyd bou dit jou konsentrasie-spier en jou vermoë om te fokus. Dis soos meditasie, maar met ’n probleem-oplossing twist.


En dan, iets wat ek persoonlik nogal van hou: minimalisme. Ek is ’n aanhanger van die idee om eenvoudig te leef. Maar wat van digitale minimalisme? Dis nie net ’n tegnologie-dieet nie—dis ’n filosofie. Dit vra: Watter digitale gereedskap voeg werklik waarde toe tot my lewe? En watter laat my net besig voel, sonder betekenis?


Onthou, sosiale media-platforms is ontwerp om verslawend te wees. Hulle is gemaak om jou konsentrasie af te breek. Digital Minimalism sê jy hoef nie alles te gebruik wat beskikbaar is nie. Jy kies doelbewus. Jy gebruik tegnologie om jou waardes te dien—nie om jou aandag te steel nie. Jy skep ruimte vir stilte, vir nadenke, vir teenwoordigheid.


Wanneer jy leer om diep te werk, skep jy ruimte vir rus. Vir familie. Vir geloof. Vir die dinge wat nie op jou to-do lys staan nie, maar wat jou lewe betekenis gee.


En jy hoef nie Bill Gates te wees om dit te doen nie. Jy kan jou eie “Think Hour” begin. Een uur per dag waar jy stil werk. Sonder afleiding. Sonder geraas. Net jy en jou gedagtes. En jy sal verbaas wees oor wat daar begin groei.


Die wêreld sal altyd raas. Maar jy hoef nie saam te raas nie. Jy kan kies om teenwoordig te wees. Jy kan kies om gefokus te werk, sodat jy vryer kan leef. En dalk, net dalk, is dit die begin van ’n nuwe ritme—een waar jy nie net meer gedoen kry nie, maar waar jy meer van jouself terugkry.


Nou, om af te sluit…

Diep werk is regtig iets besonders. Dis skaars, dis waardevol, en dis betekenisvol. Dis daardie tipe werk wat jou laat voel jy het iets gedoen wat saak maak. En ja, oppervlakkige werk is aanloklik—dis maklik, dis vinnig, dis dikwels nodig. Maar ons moet dit beperk. Ons moet keer dat dit alles oorneem.


Fokus is soos ’n spier. Jy oefen dit. Jy bou dit stadig. En jy versterk dit deur verveling te omhels, afleidings te weerstaan, en jou omgewing so in te rig dat dit jou help om te verdiep. Dis nie iets wat vanself gebeur nie—dis iets wat jy kies, elke dag.

Sosiale media… wel, dis ’n groot drein op ons aandag. Jy hoef dit nie heeltemal te los nie, maar jy kan dit beperk. Jy kan besluit wanneer en hoe jy dit gebruik, en jy kan dit so inrig dat dit jou dien—nie verswelg nie.


Dis hoekom dit so belangrik is om jou dae te struktureer. Om rituele te hê. Om skedules te hê. Om grense te stel. Want gefokusde aandag is vandag een van die mees waardevolle goed wat jy het. Dis die ware geldeenheid in die informasie-ekonomie. Elke keer wat ’n kennisgewing, ’n vergadering of ’n e-pos jou aandag opslurp, verloor jy ’n stukkie van daardie vermoë om diep te werk.


En weet jy, ons is nie natuurlik gebou om afleiding te weerstaan nie. Veral nie wanneer dit doelbewus ontwerp is om verslawend te wees nie. Dis hoekom ons teenmaatreëls nodig het. Beperk sosiale media. Beplan aggressief. Sê gereeld “nee”. Erken die krag van hierdie kragte—want sonder teenstand wen afleiding elke keer.


Ek hou van die metafoor van vakmanskap. Net soos ’n meesterhoutwerker hout vorm tot iets wat lank hou, vorm ’n diep werker idees tot blywende bydraes. Dis nie net ’n produktiwiteitsfoefie nie—dis ’n kunsvolle dissipline. Dis gewortel in trots en betekenis.


En nee, die doel is nie om alle oppervlakkige werk te vermy nie want, dis onmoontlik. Die geheim lê in balans. In doelbewuste prioritisering van diepte. In tydsblokke en vaste werkskedules wat keer dat oppervlakkige werk alles oorneem.


So, as jy vandag voel jy hardloop van een ding na die ander, wil ek jou uitnooi: probeer om stil te werk. Sit jou foon af. Kies een taak. Gee dit jou volle aandag. Nie omdat jy moet nie, maar omdat jy mag. Omdat jy verdien om teenwoordig te wees in jou eie lewe.


Mag jou aandag vandag ’n geskenk wees—vir jou werk, vir jou mense, en vir jou siel.


Comments


bottom of page