top of page

DIE GEHEIM VAN 1%

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • May 3
  • 3 min read



Ons hou nie van verandering nie. Punt.

Ons raak so vasgevang in ons gemaksone. Verandering voel vir ons moeilik! Dit voel soos ’n berg wat ons moet klim. Dink aan nuwejaarsvoornemens. Ek gaan jou nie verveel met statistieke oor hoeveel mense by hul voornemens hou en hoeveel elke jaar dieselfde voornemens maak net om dit weer te breek nie. Maar verandering hoef nie pynlik te wees as ons die Geheim van 1% bemeester nie.


Volgens antieke filosofie:

“The journey of a thousand miles begins with a single step.”


Verandering is moontlik!

Of ek en jy dit nou wil weet of nie – ons is die somtotaal van dit wat ons elke dag doen: ons keuses en ons gewoontes.Jy maak jou keuses, en dan maak jou keuses jou. Dis nou maar eenmaal so. Ons het natuurlik goeie gewoontes en slegte gewoontes. Wanneer dit ’n slegte gewoonte is, moet jy self besluit of dit iets is wat jy wil afleer.


Jy vra jouself af:

Hoekom wil ek hierdie gewoonte afleer? Wat is my motivering?

Besef jy self dat die spesifieke gewoonte nie goed is vir jou nie – soos byvoorbeeld dat jy te laat opstaan, ’n swak dieet volg, of rook wat sleg is vir jou gesondheid?

Of is dit iets wat mense rondom jou ontstel of waaroor hulle kla – soos onnetheid, altyd laat wees, of vloek?


Dan moet jy besluit of dit iets is waaraan jy wil werk en wat jy wil verander.

Ek gaan nou ’n klompie riglyne gee wat jy kan oorweeg. Dit geld natuurlik ook vir goeie gewoontes wat jy wil aanleer. Ek gee erkenning aan James Clear, wat Atomic Habits geskryf het. Die boek is die moeite werd om van voor tot agter te lees… en toe te pas. Onthou: toepassing is alles.


Dis wonderlik om die beginsels te ken, maar as jy dit nie toepas op jou eie lewe nie, is dit net kennis – nie lewensveranderend nie. Jou keuse.

In aansluiting by die Geheim van 1%, wil ek jou vertel van die Kaizen-metode.

Die metode berus op die beginsel van klein treetjies – babatreetjies.

 

Om vir jouself ’n doelwit te stel wat klein en haalbaar is. Iets waarvoor jy nie maklik "nee" kan sê nie. Wanneer jy dan daardie doelwit bereik, voel jy goed oor jou sukses en dink:

"Wel, ek het een tand geflos – dit was nie so erg nie. Volgende week flos ek twee."

En so bou jy stelselmatig jou goeie gewoonte op. Jy bou aan daardie "gewoonte-spier".

Ons het elkeen die vermoë om voortdurend te verbeter.


Jy hoef nie jouself in ’n bootcamp-mentaliteit in te forseer om te verander nie.

As jy begin om die Geheim van 1% of Kaizen in jou daaglikse roetine in te bou, het jy begin om die belangrike vraag te beantwoord:


“What more important task does this life hold than to draw out the possibility in each moment?”

Elke oomblik is kosbaar. Elke oomblik tel.


James Clear stel die volgende 4 wette voor:


1. Maak dit sigbaar (Cue)

Wet: Maak dit duidelik.

As jy ’n gewoonte wil begin, moet jy dit maklik herkenbaar en sigbaar maak.

Voorbeeld: Sit jou vitamiene op die kombuistoonbank sodat jy dit in die oggend sien. Of sit jou tekkies en hardloopklere reg langs jou bed, reg vir die volgende oggend.


 2. Maak dit aantreklik (Craving)

Wet: Maak dit aantreklik.

Koppel ’n nuwe gewoonte aan iets waarvan jy hou om dit meer aantreklik te maak.

Voorbeeld: Luister na jou gunsteling musiek terwyl jy oefen.

Kyk na jou gunsteling TV program terwyl jy op die trapmeul (treadmill) loop.


3. Maak dit maklik (Response)

Wet: Maak dit eenvoudig.

Begin klein. Verminder weerstand sodat jy dit maklik kan uitvoer.

Voorbeeld: As jy wil begin lees, begin met 1 bladsy per dag eerder as 30.


4. Maak dit bevredigend (Reward)

Wet: Maak dit bevredigend.

Gee vir jouself ’n gevoel van sukses ná die aksie sodat jy dit wil herhaal. Ons brein hou van beloning — dit versterk gedrag.

Voorbeeld: Merk jou daaglikse gewoonte af op ’n kalender – dit voel lekker om vordering te sien. Beloon jouself met ’n koppie jou gunsteling tee of koffie ná jy ’n nuwe gewoonte voltooi het, soos 10 minute se lees of ’n kort oefensessie.

 

En vir slegte gewoontes?

Gebruik dieselfde wette, maar draai dit om:

Maak dit onsigbaar

Maak dit onaantreklik

Maak dit moeilik

Maak dit onbevredigend


Onthou: “Goeie gewoontes bou nie jou lewe in een slag nie — maar elke klein treetjie is ’n stem wat jy uitbring vir die mens wat jy wil wees.”

Begin net!

Ek stuur vir jou liefde, vrede en seën!

Comentarios


bottom of page