Geboorte Orde: Algemeen
- Janine Bevolo-Manders
- Jun 25
- 5 min read
Het jy al ooit gewonder hoekom jou boetie of sussie so anders is as jy? Julle het immers dieselfde ma en pa, julle het in dieselfde huis grootgeword, maar tog tree julle só anders op en sien die wêreld uit verskillende hoeke. Wonder jy soms hoekom jy op ’n sekere manier optree—amper asof jy geprogrammeer is? Hoekom jy altyd die een is wat vrede probeer maak? Of hoekom jy nooit voel jy is goed genoeg nie?
Wel, baie van die antwoorde lê opgesluit in die dinamika van geboorte-orde. Hierdie onderwerp het my al vir jare gefassineer. Dr Kevin Leman, ’n bekende sielkundige, is die “guru” op hierdie gebied, en ek leen baie van my insigte by hom. As jy meer wil leer, kan ek sy boek beslis aanbeveel.
Geboorte-orde is egter nie so eenvoudig soos om net te sê: “Jy’s die oudste,” of “jy’s die middelkind,” of “jy’s die babatjie van die gesin” nie. Daar is belangrike veranderlikes wat ’n groot rol speel—dinge soos of jy deel is van ’n saamgestelde gesin, of een van jou sibbe dalk ’n gestremdheid het, of daar ’n ouderdomsgaping van vyf jaar of meer tussen kinders is, en selfs geslag verskille. Hierdie faktore raak ons ook in komende episodes aan.
My hoop is dat, as jy geboorte-orde beter verstaan, jy ook jouself beter sal verstaan—en ook die mense in jou lewe.
As jy ’n oudste of enigste kind is, sal jy leer hoekom jy só gedrewe is om alles reg te doen—en wat jy kan doen om nie in daardie perfeksionistiese patroon vas te val totdat jy uitbrand nie. As jy ’n middelkind is, gaan jy dalk beter verstaan hoekom jy altyd in die rol van bemiddelaar beland, of hoekom jy jou eie unieke pad volg—heel anders as jou ouer sibbe. En dalk sal jy ook ’n bietjie lig kry op daardie rebelse streep wat diep binne jou skuil.
En as jy die jongste is—die “baba” van die gesin, soos daar dikwels gesê word—sal jy dalk agterkom hoekom jy daardie sterk, verantwoordelike eersgeborenes nodig het om jou avontuurlustige gees in toom te hou. Jy sal dalk ook verstaan hoekom jy soms liggies moet loop rondom jou ouers—en hulle bietjie meer grasie gun, want onthou: hulle dra die las van om die “perfekte rolmodelle” te wees.
So waarvoor wag ons? Kom ons spring in.
Watter van die volgende persoonlikheidseienskappe pas die beste by jou?
Kies die groep waarin die meeste van jou eienskappe voorkom—nie almal hoef op jou van toepassing te wees nie, net dié wat die meeste resoneer.
A: Perfeksionis, betroubaar, konsensieus, ’n lysiemaker, goed georganiseerd, gedrewe, natuurlike leier, krities, ernstig, leergierig, logies, hou nie van verrassings nie, tegnies vaardig.
B: Bemiddelend, kompromie-gesind, diplomaties, konflikvermiedend, onafhanklik, lojaal, het baie vriende, geheimsinnig, volg nie altyd die norm nie, gewoond om nie al die aandag te kry nie.
C: Manipulerend, sjarmant, blameer maklik ander, soek aandag, taai, mense-mens, natuurlike verkoopspersoon, liefdevol, hou van verrassings.
D: Klein volwassene teen ouderdom sewe, baie deeglik, doelbewus, selfgemotiveerd, presteer uitmuntend, versigtig, lees graag, dink in swart-wit terme, praat in uiterstes, kan nie mislukking verdra nie, het baie hoë verwagtinge van hulself, gemakliker met mense wat ouer of jonger is.
As jy A gekies het, is die kanse goed dat jy ’n eersgeborene is.
As jy B gekies het, is jy waarskynlik ’n middelkind.
As jy C gekies het, is jy heel moontlik die jongste.
En as jy D gekies het, is jy waarskynlik ’n enigste kind.
Dis belangrik om te onthou: ek sê doelbewus "kanse is goed" of "10 teen 1" – want nie elke eienskap pas perfek by elke persoon nie.
Eersgeborenes en Enigste Kinders
Dr. Leman klassifiseer ’n eersgeborene as:
Die eerste kind wat in ’n gesin gebore word.
Die eerste van ’n sekere geslag in daardie gesin (byvoorbeeld die eerste seun, selfs al is daar ’n ouer suster).
’n Kind wie se volgende selfde-geslag sibbe vyf jaar of meer jonger is.
Ek verstaan enigste kinders goed, want ek is self een—nie uit keuse nie...
Eersgeborenes en enigste kinders is geneig om betroubaar, konsensieus en deeglik te wees. Hulle hou daarvan om lysies te maak, dink in swart-wit, en is baie bewus van reg en verkeerd. Hulle is natuurlike leiers en prestasiegedrewe. Enigste kinders neem dit selfs ’n stap verder—boeke is hul beste vriende en hulle is dikwels al volwasse van aard teen die ouderdom van sewe of agt. Hulle werk graag alleen en verstaan nie hoekom ander kinders so baie baklei met hulle sibbe nie.
Navorsing wys eersgeborenes presteer gemiddeld beter—jy vind hulle dikwels in beroepe soos medies, regte, ingenieurswese of finansies. En van die 23 Amerikaanse ruimtevaarders wat die ruimte ingestuur is, was 21 eersgeborenes en twee enigste kinders!
Maar dis nie alles rooskleurig nie: eersgeborenes is geneig om hoë verwagtinge te hê en maklik te stres—selfs net oor ’n ete met gaste! Hulle is gewoonlik deeglik voorbereid, veral as hulle voor mense moet praat. Hulle "wing" niks. Ek is self só—ek daag nie eers op as ek nie my praatjie ken nie!
Laaste Geborenes
Laaste kinders is dikwels sosiaal, uitgaande en kreatief. Hulle is ongekompliseerd, spontaan, vol humor en uitstekend met mense. Vir hulle is die lewe ’n fees! Hulle is baie sjarmant, en dis maklik vir hulle om weg te kom met dinge. Hulle hou dikwels hul troetelname, al word hulle volwassenes.
Maar om die jongste te wees, het ook sy nadele. Hulle moet dikwels ouer sibbe se klere dra—klere wat al uitgerek of uit die mode is. Hulle word soms op gepik, en hulle weet gou dat hulle ouer boeties en sussies soos supersterre behandel word.
Middelkinders
Middelkinders is dikwels moeilik om vas te pen. Hulle is geneig om anders te wees as die oudste kind—meer onkonvensioneel as hul formele, verantwoordelike ouer sibbe. Hulle is lojaal, kompeterend, en vriendskap is vir hulle belangrik. Hulle voel dikwels asof hulle tussen die boom en die bas is—nie so gedruk soos die oudste nie, en nie so bederf soos die jongste nie.
Middelkinders vind dikwels hul plek buite die gesin en is geneig om eerste die huis te verlaat. Hulle is ook dikwels die bemiddelaars in gesinspannings en het die vermoë om ander te laat saamwerk. Soms kan hulle egter ’n bietjie onbetrokke of lui voorkom, veral omdat daar minder verwagtinge op hulle geplaas word.
Slotgedagte
Geboorte-orde gee ons nie net insig in waar ons in die gesin staan nie—dit help ons verstaan hoekom ons soos onsself optree, hoekom ons na sekere rolle neig, en hoe ons in verhouding tree met ander. Dit laat lig val op ons sterkpunte, maar ook op die uitdagings wat saam met ons plek in die gesin kom. Wanneer jy verstaan hoe jy gevorm is, verstaan jy nie net jouself beter nie—jy leer ook om ander met meer begrip en empatie te hanteer.

Comments