top of page

Hoe is "rotsklim" soos geloof?

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • Aug 27
  • 8 min read
ree


Ek moes onlangs by ‘n Vroue Streekskongres gesels oor die Tema: “Ek weet aan wie’k my toevertrou het” 2 Timoteus 1:12  ‘n Beeld wat my net nie wou los toe ek oor die tema dink nie, was die beeld van “Rotsklim”. Het enige een van julle al ooit gerotsklim? Of dit oorweeg. Toe ek aan die praatjie werk het dit vir my gevoel – dit wil net nie “gel” nie. Dit was hierdie kant toe en daardie kant toe en die slotsom waartoe ek uiteindelik gekom het, was ek gaan hierdie self moet doen om te beleef hoe dit voel – anders gaan ek net nie geloofwaardig oorkom nie. Nou julle – ek was regtig baie skrikkerig gewees vir die storie – ek is beslis nie ‘n adrenalien “junky” nie, maar ek moes dit net gaan doen sodat ek met gesag kon praat.


Die eerste hekkie wat ek moes oor, was om iemand te kry om dit saam met my te doen. Dit was nie so maklik nie, al my vriendinne, my man en dogter het verskonings gehad. Thomas, my seun het gelukkig ingestem en so het ons gaan klim.


Daar aan gekom, sien ons daar is nogal heelwat mense, dis nogal ‘n gewilde storie. Stap jy in - dan toorn die mure voor jou uit.


Heel eerste moes ons eers ‘n vrywaringsvorms teken. So, dit suggereer toe dadelik maar hier is risiko aan verbonde. Maar wat sal ons nou maak, ons is nou hier? Ons vul toe maak ons vormpies heel gewillig in. Na ons betaal het kry ons toe ons skoene en harnas.


Jy kan toe nou nie met enige skoene klim nie: pantoffels en plakkies sal nie deug nie. Tekkies ook nie. Net hierdie spesiale klimskoene. Wat styf om jou voet pas.

Met skoene aan was dit nou tyd vir die harnas. Ons klim in en maak ons harnasse baie styf om ons middels vas. Nou wag ons vir iemand om te beduie wat ons moet doen.


Ek sien in ‘n ander afdeling is daar ‘n kinder partytjie aan die gang – en daar word die kinders letterlik en figuurlik touwys gemaak oor hoe om te klim. Ek skep moed -  die area se muur is nie te hoog nie. Ek dink ek gaan dit kan bemeester – as ons hier kan begin.  Maar heelaals dit lyk my dis net bedoel vir die kleintjies. Dit was soos die “playpen”, die baba swembadjie. Ons is mos nou groot. Ons moet die ander muur bestyg.


Ek stem - ons begin by die laagste muur. 16 m klink vir my heeltemal goed vir ons beginnertjies. Ons word mooi gewys hoe om die gespe aan ons tou vas te maak. Stoot op, draai en buig. ‘n Hele storie – hy moenie kan los nie. En daar is twee van hulle vir veiligheid. Goed, die harnas is aan, die tou is vas. Bo is die tou aan ‘n meganiese katrol vas. Nou is dit tyd vir klim.


Teen die muur vas is verskillende kleure om die verskillende roetes nabo aan te wys. Die verskillende kleure is gekoppel aan die verskillende moeilikheids-grade. Verseker gaan ek die maklikste een kies – in my geval is dit blou, ons hou dit blou. Die klim begin. Dis konsentrasie anderste is dit konsternasie. Jy sit jou voet in ‘n blou blokkie, jou hand soek bokant jou ‘n blou vashou plek. Ons vorder. Stadig maar seker en versigtig boontoe. Die lekkerste is as die blou ‘n redilike vashou plek het waarin jou vingers kan pas. Amper soos ‘n bakkie waarin jou hand pas. Dan het mens meer greep om jouself op te trek. Die minder lekkeres is, is die met die klein vashouplekkies. Daar is jou greep nie sterk nie. Jy voel onseker. Uiteindelik is ek bo.


Die tou was deurgaans daar. Ek het hom nie soseer nodig gehad vir die opgaan nie, maar hy was daar vir ingeval. Toe ek bo kom – is dit nou tyd vir afkom. Klim ek af of gaan ek die harnas en tou vertrou? Dis die bangste-bang -om te laat los.


Hulle stel dit so maklik: Sit net agteroor, laat jou hande los en skop teen die muur – baie makliker gesê as gedaan. Want jy weet nie, jy weet nie hoe dit gaan voel nie. Is dit ‘n val en dan hak die tou en ruk jou; is dit vryval tot onder? Gaan hierdie tou en harnas my hou?

Sjoe, dit het baie oortuiging gevat; baie aanmoediging van onder af om te sê: “Los net. Die tou en harnas gaan jou hou.”


Dit het my laat dink aan die grappie van ’n man wat van ’n krans afgeval het en toe aan ’n tak bly hang het — tussen hemel en aarde, met niks onder hom nie. In sy nood roep hy na bo:

"Help! Is daar iemand daarbo wat my kan help?"

Na ’n oomblik antwoord ’n stem uit die hemel:

"Ek is hier. Ek is die Here. Laat los — Ek sal jou vang."

Die man kyk af na die afgrond, dan weer op na die hemel...

Hy dink vir ’n oomblik en roep toe:

"Is daar iemand anders daarbo wat my kan help?"


In my geval het ek eindelaas laat los – doodbang – ek julle sal nie glo nie – die tou het gehou, die harnas het gehou en ek het veilig onder geland. Die ys was gebreek en ek wou weer gaan. Wat ‘n vry gevoel is dit nie, om van daar bo af te los en te weet jy gaan ok wees nie.


Nou toegegee: hierdie klimmery lyk nie so elegant en vroulik nie. Nee, dis ‘n gesweet en ‘n gesukkel, bene bewe, vingers wat klou. Dis nie ballet nie – dis ‘n geveg teen swaartekrag. En tog…dis presies hoe geloof ook kan voel. Daar is so baie ooreenkomste eintlik met ons geloof. Die lewe is nie ‘n plat staproete nie. Dis ‘n klim.



Dis ‘n klim teen die Rots. Hierdie Rots wat ons uitklim is egter nie ‘n wat nie, maar ‘n Wie. Die Een aan wie’k my toevertrou het. Die Psalmis sê: “Die Here is my rots, my vesting en my bevryder.” Psalm 18:3


Glo my toe ek voor daardie muur gestaan het, het ek nodig gehad om met die volste vertroue te weet – die muur is vas. Hy is sterk; hy is stewig en hy is onwankelbaar.

In ons geloofslewe is die Een wat ons nodig het om weet - sterk, stewig en onwankelbaar is - God. Ek het nodig om te weet dat die Een aan wie’k my toevertrou het is: Gister en vandag en môre en tot in alle ewigheid dieselfde. As jy dit eers vir jouself uitgemaak het, dan kan jy begin met die klim. Het jy dit al vir jouself uitgemaak – voel jy veilig by Hom; voel jy jy kan Hom vertrou; kan jy jou hoop in Hom plaas?


Dis die eerste stap. Vertroue in die Rots.  Vertroue dat die Rots sal my kan hou – Hy gaan nie skuif nie; Hy is onwankelbaar vas.


Vir my het die verskillende roets na bo wat uitgemerk was met die verskillende kleure - die keuses verteenwoordig in mens se lewe. Jy kies die roete/pad wat jy wil volg. Jy besluit dit. Mens kies nie altyd die omstandighede in mens se lewe nie. Want ons weet mos maar die lewe gebeur. Maar ons kan wel kies hoe ons dit wat met ons gebeur wil hanteer. Dit is so dat party paaie is moeiliker as ander.


Die kleure – is die roetemerkers op jou pad om te wys watter pad jy moet volg. Daardie roetemerkers verleen vashouplek en plek vir jou voete om vanaf jouself weg te stoot na die volgende 1.


Die soort roetemerkers is soos die ankers op ‘n mens se lewenspad wat ek wil vergelyk met die

wat Hy vir ons gee om aan vas te hou. Daar is 365 beloftes in God se Woord. 1 Omtrent vir elke dag. (Die vraag oor hoeveel beloftes daar in die Bybel is, het nie ’n eenvoudige numeriese antwoord nie—en dis eintlik deel van die wonder daarvan.

Volgens Bybelkennis is daar ’n algemene idee dat daar ’n belofte vir elke dag van die jaar is—dus ongeveer 365 beloftes. Maar dit hang sterk af van hoe jy “belofte” definieer. Sommige mense tel eksplisiete uitsprake van God se trou, voorsiening, liefde, en redding; ander sien ook implisiete geloofswaarhede as beloftes, soos die troos van God se teenwoordigheid of die hoop op ewige lewe.)


Die vraag is egter hoeveel van hierdie beloftes ken jy? Gaan maak dit deel van jou ontdekkingsreis om te gaan soek na al die beloftes wat die Here in sy Woord maak en maak hulle jou eie. Gaan en merk hulle in kleur in jou Bybel dat hulle sal uitstaan, soos die merkers op die muur.  Staan op die Here se beloftes. Dis daar om jou die moed te gee om jouself vanaf weg te stoot om verder te gaan. Dis daar om aan vas te hou, wanneer jy dalk voel jy wil die greep op die lewe verloor.


Ons het nodig om die Here se Woord en sy beloftes te ken.


Die tou verteenwoordig vir my geloof – met die opgaan het jy die tou nie so nodig nie. Ek het kennis dat die tou sterk is; en hy is daar vir ingeval – dis baie hoe ons geloof is – ons ken die Bybel bietjie, ons het kopkennis en ons geloof is baie keer soos ‘n versekeringspolis daar vir ingeval ek dit nodig het; maar voordat my tou/geloof nie getoets word nie, weet ek nie hoe sterk hy is nie. Eers wanneer ek bo kom; en die tou die enigste iets is wat my gaan laat afsak na ondertoe – dan besef ek eers hoe afhanklik hoe nodig ek die tou het. Ek plaas my geloof dan 100% in die tou.


(Iemand het na die praatjie vertel hoe waar dit vir haar was. Sy het as onderwyseres saam met ‘n skoolgroep op ‘n kamp gegaan, waar hulle onder andere ge-absail het. Sy het na al die kinders klaar is, het sy afgegaan. Maar met die afgaan het die harnas in 2 geskeur en sy was letterlik net aan die tou vas. Dit is al wat haar lewe gered het. Sy het wel baie seer gekry en het nie ‘n vel op haar rug gehad nie, maar die tou het haar gered. Wat ‘n verskriklike ervaring moes dit nie vir haar gewees het nie.)


Om die tou so te vertrou dis soos om jou geloof 100% te plaas in die Here. Dit gaan oor ‘n verhouding. Ek het nou ‘n “verhouding” met die tou nodig. Dis soos wat mens besef ook in sekere tye van mens se lewe – dat, nou is ek uitgelewer – daar is net Een wat my kan help en dit is my Here – hoe sterk is my geloof dan?


En dan die oomblik wat ek myself sover kan kry om te laat los en die tou en harnas te vertrou. Ervaar ek die verligting, die vrygevoel die Here het my.


Dis waar die Here ons wil hê dat ons – soos wat ek my vertroue in ‘n tou en harnas geplaas het om my te hou en veilig te laat sak, so wil die Here hê dat ons Hom ook sal vertrou en weet in Sy hande is ek veilig. Hy het nêrens ooit gesê ons moet Hom probeer verstaan nie, maar wel vertrou. Hy sal my nooit teleurstel nie.


Nou, die wonderlike was natuurlik om hierdie hele ervaring met iemand te deel. Dit was lekker dat Thomas dit saam kon doen; en Jimmy kon ons afneem. Ons het nou ‘n “memory” wat ons deel. So het ons mense in ons lewens nodig om ons geloof mee te deel. Almal is dalk nie so gretig om die geloofsreis met jou mee te maak nie, maar ander sal weer – soek daardie mense uit. Soek mense uit wat jou sal aanmoedig; motiveer, moed in praat, troos as dit nodig is en wat saam met jou bid en saam met jou glo.


Thomas het die een baie hoë muur uitgeklim en dit was “scary” en hy het gesê: Hy kan nogal hom voorstel dat dit is hoe dit moet voel as jy die greep op die lewe verloor. Dinge gebeur en jy verloor soms jou greep.


Maar as gelowige kan jy weet jy is met die tou van geloof, vas aan jou harnas van vertroue, wat vas is aan die Rots, ons Here. En daar is baie ankerpunte vol beloftes waaraan jy kan vasgryp weer, wat jou sal help om jou greep weer te kry.


Psalm 37:24 sê: “Al struikel jy, sal jy nie nerval nie, want die Here hou jou vas.”

Ek sê dankie vir die geleentheid. Sonder dat die vroue dit eers geweet het, het hulle my uit my gemaksone laat klim het, letterlik ‘n muur uit en sodat ek ‘n les kon leer in geloof, vertroue en die Rots – nou weet ek opnuut weer: Aan Wie’k,my toevertrou het. 

 

 

Comments


bottom of page