Hoe vertrou jy God, wanneer jy weet Hy kan - maar Hy doen nie?
- Janine Bevolo-Manders
- 5 days ago
- 5 min read

Was jy al hier?
Jy bid. Jy glo. Jy twyfel nie aan God se krag nie – maar tog wonder jy oor Sy plan.
Vir sommige van ons kan dit wees dat daar ‘n verhouding in jou lewe is, wat jy bid die Here moet heelmaak, maar die verhouding is steeds gebreek.
Vir ander van ons – is dit iets waarvoor jy al baie, baie lank bid en dit lyk of daardie gebed nog nie beantwoord nie. Die wonderwerk het nog nie gebeur nie.
Hoe vertrou jy God, wanneer jy weet Hy kan - maar Hy doen nie?
Genesis 22 is seker een van die mees intense verhale in die Bybel – wat mens se geloof help bou.
God sê: “Neem jou seun, jou enigste seun, wat jy liefhet - Isak…” Genesis 22:2
Jou seun.
Jou enigste seun.
Wat jy liefhet.
Klink dit bekend?
Jy dink: Hoe kom God dit van Abraham verwag? Hoe kon Abraham dit doen? Die Bybel sê vir ons dat Abraham ‘n vriend van God was; dat hy so ‘n intieme pad met God gestap het en so die karakter en natuur van God geken het, dat Hy die Here volledig vertrou het.
Abraham het God só vertrou…dat hy geglo het: Selfs al sterf Isak - God kan hom weer lewendig maak.
Jy wonder dalk maar hoe weet ek wat Abraham gedink het. Die NT sê vir ons:
“Abraham het geredeneer dat God die mag het om selfs uit die dood op te wek.” Hebreërs 11:19
Stel jou voor – vol geloof
Stap Abraham drie dae lank.
Drie dae
van spanning.
Drie dae
van vertroue sonder dat hy verstaan het wat aangaan.
En Isak…
dra die hout
vir sy eie offer
die berg op.
Klink dit bekend?
“Die vuur en die hout is hier,” sê Isak, “maar waar is die lam vir die offer?” Genesis 22:6 en 7
Waar is die lam?
Waar is die antwoord? Waar is die voorsiening? Waar is die wonderwerk?
En skielik…as jy jouself in die storie sien, is dit nie meer net Isak se vraag nie.
Dis ons vraag ook.
Waar is God…?
Waar is God - wanneer die diagnose tref?
Waar is U God - wanneer ’n verhouding uitmekaar val?
Waar is U God - wanneer dit voel asof ’n belofte besig is om te sterf?
In vers 8 antwoord Abraham met meer geloof as begrip:
“God self sal die lam voorsien.” Genesis 22:8
Nie net - Hy sal ’n lam stuur nie…
God self sal die Lam voorsien.
Abraham het geen idee hoe nie - hy weet net Wie: God sal.
God sal voorsien.
In geloof lig Abraham die mes op…gereed om sy seun te offer.
Maar ’n Engel stop hom: “Moenie jou hand op die seun lê nie.” Genesis 22:12
Vers 13 sê: Abraham kyk op en sien - nie ’n lam nie - maar ’n ram wat in die bos vasgevang is.
Haal ‘n oomblik asem...
Ek bid dat die Heilige Gees jou nou sal ontmoet en vir jou die openbaring gee van hierdie wonderlike, lewens veranderende, geestelike waarheid wat wag om jou hart aan te raak.
Abraham het gesê: “God sal die Lam voorsien.” Genesis 22:8
Maar op die berg Moria voorsien God… ’n ram.
So die vraag hang nog in die lug:
Waar is die Lam?
Onthou…regdeur die Ou Testament wys God vooruit na Jesus.
Byna 2 000 jaar later - op ’n ander heuwel…’n klip gooi weg...
dra nog ’n Seun
hout teen ’n berg op -
in die vorm van ’n kruis.
Maar hierdie keer…
het geen engel die offer gestop nie.
Want hierdie keer -
was die Seun self die Lam.
Moet dit nie mis nie. God voorsien dié Lam.
Waaroor dit nog altyd gegaan het, was oor God se liefde. Want so lief het God die wêreld gehad...
Hy het jou en my lief nie vir wat ons doen nie, maar omdat Hy is wie Hy is. Dis wie Hy is. Hy is liefde.
Die Lam is geslag en in ‘n graf geplaas.
Die graf is verseël.
Vir drie dae het dit gelyk asof niks gebeur nie. Hulle het so gehoop en so geglo dat Jesus die Een sou wees wat hulle sou red en wat alles sou kom verander.
Vir jou - is dit miskien jy het so gehoop en glo en gebid dat jou huwelik beter sou wees; dat jou tiener sy weg terug sou vind na God; dat die diagnose negatief is, jy het nie gedink dat jy werkloos sou wees nie; of dat jy sou so sukkel om jou rekeninge te betaal nie. Here, ek verstaan nie.
En so het die dissipels gewag, soos jy ook dalk wag. Die eerste dag het hulle niks gesien nie en die tweede dag het hulle ook niks gesien nie. En terwyl hulle gewag het, het dit gelyk asof God niks doen nie.
Maar God -
in Sy liefde -
het die Lam voorsien.
Wat ek wil hê jy moet hoor is: Hy was nog en is nog altyd daar:
In jou tye van wag,
is Hy daar.
Waar jy stoei met jou diepste vrae
is Hy daar.
Wanneer jy desperaat is en seer het
Hy is daar.
In jou grootste vrese -
is Hy daar.
Maak nie saak waardeur jy gaan nie -
Hy is nou by jou.
Selfs al voel dit nie so nie
Jy sien Hom dalk nie.
Jy voel Hom dalk nie.
Maar ons geloof is nie gebou op gevoelens nie - dit is gebou op die sekerheid van ’n leë graf. Hy is die Lam van God wat uit die dood opgestaan het. Jy sal Hom kry in elke boek van die Bybel.
Van Genesis tot Openbaring.
“Ek het ’n Lam gesien - soos een wat geslag is - wat staan…” Openbaring 5:6
Die Lam is nie dood nie.
Hy staan.
Die Lam wat geslag is leef en regeer.
So…
As Jesus daar was voor die kruis…
As Hy daar was in die graf…
As Hy lewendig uitgestap het…
Dan kan jy Hom nou vertrou.
Miskien voel jy soos Isak
Op die altaar.
Onder druk.
Jy dra iets wat jy nie gekies het nie.
Of dalk voel jy soos Abraham
jy probeer die Here vertrou
met iets wat nie sin maak nie.
Hier is die goeie nuus - Hy is betroubaar; Hy is altyd goed en Hy is altyd daar.
Daar is baie van ons wat genoeg weet van die Here hier bo (in ons koppe), maar ons vertrou Hom nog nie genoeg hier in ons harte nie. Dit is my gebed dat die van ons wat genoeg van die Here weet hierbo (in ons koppe), ‘n 30 cm skuif sal maak in ons lewens. Dat dit nie net iets sal wees wat ons intellektueel weet nie, maar dat dit ‘n geestelike waarheid sal wees wat so eg is, dat alles omtrent jou verander.
Want as die graf leeg is, vra dit en roep dit my om die Een te volg, wat vir my gesterf het en weer opgestaan het. Ek kan die Een ken wat my so lief het en wat waardig is van elke deel van my lewe.
Comments