top of page

'n Pa na God se hart

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • Jun 25
  • 5 min read

’n Klein seuntjie is gevra om te verduidelik wat Vadersdag is. Hy het gesê:

“Dis soos Moedersdag. Die enigste verskil is — mens spandeer net nie so baie geld op Vadersdag nie.”


Dis natuurlik ’n grappie… maar tog, op een of ander manier word Vadersdag dikwels nie so groot gevier soos Moedersdag nie.


Mark Twain het eenkeer gesê:“Toe ek 14 was, was my pa so oningelig; hy het my grensloos geïrriteer met alles wat hy kwytgeraak het. Maar toe ek 21 word, was ek verstom oor alles wat hy in sewe jaar geleer het.”

Om in vandag se wêreld ’n goeie pa vir jou kinders, en ’n goeie man vir jou vrou te wees, is inderdaad ’n groot uitdaging. Veral in ’n samelewing waar gebroke gesinne al hoe meer algemeen raak, waar pa’s dikwels nie meer onder dieselfde dak as hul kinders woon nie, en slegs nou en dan ’n tydjie saam kry — raak die uitdaging nog groter.

Ek is egter dankbaar dat ek op hierdie pragtige legende afgekom het, wat iets vertel van God se hart vir vaders:


Toe God pa’s gemaak het…


Toe die Here pa’s gemaak het, het Hy begin met ’n lang, stewige lyf. ’n Engel — natuurlik ’n vrou — het nuuskierig gekyk en gevra:

“Wat maak U nou? As U kinders so naby aan die grond maak, hoekom is pa dan so lank? Hy gaan moet hurk om albasters te speel, buk om ’n kind in die bed te sit, en selfs vir soentjies sal hy moet afbuig.”

Maar God het net rustig geglimlag en geantwoord:

“Ja… maar as Ek hom op kinders se vlak maak, wie gaan hulle hê om na op te kyk?”

Toe Hy by die pa se hande kom, maak Hy hulle groot — sterk en gehard.

Die engel skud haar kop en sê:

“Here, sulke groot hande is te lomp! Hulle sal nooit ’n garing deur ’n naald se oog kry nie, of daardie klein knoopies op ’n kerkhemp vasmaak nie. Hulle gaan nie eers ’n haarband om ’n dogtertjie se poniestert kan draai nie. Splinters uithaal ná krieket gaan ’n nagmerrie wees!”

Maar God sê:

“Ek weet. Maar hulle is groot genoeg om al die klippies, karretjies en lekkertjies vas te hou wat ’n seuntjie aan die einde van die dag uit sy sakke haal… en tog sag genoeg om ’n kind se gesig tussenin vas te hou.”

Toe vorm God vir hom lang bene en breë skouers.

Die engel trek haar oë en sê:

“Regtig nou? ’n Pa sonder ’n skoot? Waar gaan die kinders sit? Hulle gaan heeltyd tussen sy bene afgly!”

Maar God sê:

“’n Ma het ’n skoot nodig. ’n Pa het sterk skouers nodig — om kaskarre te trek, fietse regop te hou wanneer daar leer fiets ry word, en moë lyfies te dra ná ’n dag in die winkelsentrum.”

God was toe nog besig met die grootste paar voete wat die engel nóg gesien het, toe sy nie meer kon stilbly nie:

“Dis nou onprakties! Dink U daardie groot voete gaan betyds uit die bed spring as die baba huil? Hoe gaan hy ooit deur die voorhuis stap sonder om minstens ’n paar Lego-blokkies te breek?”

God glimlag en antwoord:

“Hulle sal werk. Jy sal sien. Hierdie voete sal daar wees om muise te verjaag in die vakansiehuis… en by elke kampterrein, rugbytoernooi en skoolkonsert op en af te stap — altyd besig om iets te dra, iets reg te maak, of net eenvoudig daar te wees. En eendag… sal hulle skoene agterlaat wat baie moeilik sal wees om vol te staan.”

Deur die nag werk God aan sy meesterstuk. Hy gee vir die pa min woorde, maar ’n stem wat ferm en vol gesag is. Oë wat alles raaksien, maar steeds met deernis kyk. En toe — amper as ’n nagedagte — gee Hy vir hom trane.

Toe draai Hy na die engel en vra:

“Nou, is jy tevrede dat hy net soveel kan liefhê soos ’n ma?”En die engel het stilgebly.

Wat het jou kind nodig om te weet?


Eerstens: Dat jy hom of haar liefhet.Wanneer laas het jy jou kind nader getrek en eenvoudig gesê:

“Ek het jou lief.”

Wat as jy vandag net eenvoudig sê:

“Ek wil hê jy moet weet ek aanvaar jou, en ek het jou al lief gehad lank voor jy my ooit kon terugliefhê. My liefde vir jou is nie gebaseer op wat jy doen of nie doen nie — dis gebaseer op wie jy is.Ek is lief vir jou bo alles. My werk is nie belangriker as jy nie. My stokperdjies is nie belangriker as jy nie. My vriende is nie belangriker as jy nie.Ek sal jou altyd liefhê — niks wat jy doen kan dit verander nie. Jy hoef dit nie te verdien nie. Jy kan dit nie ontsnap nie. En jy sal dit nooit verloor nie.”

Tweedens: Jou kind moet weet jy glo in hom of haar.Ons woorde is dikwels vol kritiek:

“Dis mooi, maar…”Leer om die maar uit te los. Vier hulle pogings. Beloon hulle groei. Moedig hulle aan — altyd.

Derdens: Kinders het dissipline nodig.Dissipline sê: “Ek gee genoeg om om grense te stel.”Wanneer daar geen dissipline is nie, hoor die kind: My pa gee nie genoeg om nie.Ons stel grense omdat ons liefhet. Dissipline leer verantwoordelikheid en gevolge. En dit help kinders om reg te leef.


Vierdens: Pa’s moet ’n toevlug wees.’n Pa moet die veilige hawe wees teen die storms van die lewe, die oordeel van maats, die druk van die wêreld.Om so ’n toevlug te wees vra luister, teenwoordigheid en toeganklikheid. Jou kind moet altyd weet: Pa is dáár.


Laastens: Pa’s dra die verantwoordelikheid om hul kinders in die weë van die Here groot te maak.Om God te dien en Hom te aanbid, moet nie net ’n Sondagding wees nie — dit moet ’n lewensgewoonte wees wat van jongs af begin.


’n Gelykenis van drie pa’s

Daar was eens drie pa’s.

Die eerste pa het sy kind vertel van God se mag en krag. Hy het God se grootheid beklemtoon met vrees — dat Hy bome kon laat neerstort en die son kon verskroei. Toe die kind uiteindelik God ontmoet, het hy bang weggekruip agter sy pa — hy was te bang om selfs na God te kyk.


Die tweede pa het probeer om alles haastig oor God te vertel — feite sonder liefde. Stories sonder siel. Toe sy kind uiteindelik voor God staan, het hy net weggekruip, koud en ongeïnteresseerd.


Maar die derde pa het die hand van sy kind vasgehou, en hul stap vertraag. Hulle het gestop om blomme te ruik, na voëls te kyk, en God se hand oral te raaksien. Hy het stories vertel — oor en oor — van God se liefde. En toe hulle eendag voor God staan, het die kind sonder huiwering sy hand in God s’n geplaas.


Slotgedagte

Wat ’n voorreg dat ons die volmaakte Vader as ons Vader kan ken.Mag elke aardse pa só naby aan sy Hemelse Vader leef, dat sy kinders in hóm iets van God se hart en liefde kan sien.

Comments


bottom of page