God se Wiskunde
- Janine Bevolo-Manders
- 3 days ago
- 2 min read

Dag 2
Johannes 6:1-15
In 1939 het George Dantzig statistiek gestudeer onder ’n beroemde Poolse professor. Een dag kom hy laat by die klas aan. Die professor het net voor sy aankoms twee “onoplosbare” stellings op die bord geskryf. Dantzig, onbewus van hul reputasie, neem aan dit is huiswerk en begin daardie middag werk daaraan. Dit neem langer as gewoonlik, maar hy los dit op en handig dit in. ’n Ruk later kom die professor na hom toe—verbaas en vol lof. Dantzig het onbewustelik twee van die grootste wiskundige probleme opgelos. Hy het later gesê: “As iemand vir my gesê het dit was onoplosbaar, sou ek dit nie eers probeer het nie.”
Die punt? Ons maak dikwels aannames oor wat moontlik is. Ons glo nie altyd Jesus se woorde: “Met God is alle dinge moontlik.” Ons logika sê vir ons wat kan werk en wat nie, maar God werk buite ons berekeninge.
In Johannes 6 voed Jesus ongeveer 20 000 mense met vyf brode en twee vissies - ’n seuntjie se eenvoudige offer. Merkwaardig wat Jesus doen met die inhoud van sy kosblikkie! Die les? As jy dit wat in jou hande is, in God se hande sit, kan Hy baie uit jou bietjie maak.
Ons dink dikwels: hoe meer ek gee, hoe minder het ek oor. Maar in God se ekonomie is 5 + 2 nie 7 nie. Wanneer God deel is van die som, is vyf brode en twee vissies genoeg vir duisende, met 12 mandjies oor.
Soos die dissipels voel ons soms oorweldig en verlam. Ons aanvaar dat ons klein bydrae nie ’n verskil sal maak nie, so ons doen niks. Maar die seuntjie het nie gewag vir ’n groter offer nie—hy het gegee wat hy gehad het. Hy het nie toegelaat dat sy “bietjie” hom keer nie.
Miskien voel jy ook: “Ek het nie veel nie.” Moenie dat dit jou weerhou om te gee nie. Dis nie ons werk om te weet wat God gaan doen nie. Dis ons werk om dit in Sy hande te sit—en te kyk wat Hy daarmee doen.
Ek kies om te doen wat ek kán doen, en vertrou God vir die res.
Gebed
Here, dikwels wil ek eers alles verstaan, voor ek vertrou. Help my asseblief om my vertroue blindelinga in U te plaas, want ek weet U stel nooit teleur nie. Amen
Comments