top of page

Van kruip tot jaag – die wonder van geloof

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • 3 days ago
  • 2 min read

Dag 3


Johannes 4:43-54


God se wonders is oral rondom ons, maar ons sal dit nie sien as ons nie leer om daarvoor te kyk nie. In Johannes 4:43–54 lees ons van Jesus se tweede wonderwerk: ’n regeringsamptenaar se seun lê op sterwe. Die verhaal is ’n pragtige illustrasie van geloof, want redding kom deur geloof.

Daar is ’n ou verhaal van ’n reisiger wat by ’n ysbedekte rivier aankom. Hy is bang, kruip stadig op sy knieë oor die ys, onseker oor hoe dik dit is. Halfpad hoor hy iets agter hom: ’n ander man jaag singend met ’n wa en vier perde oor dieselfde ys. Dis ’n beeld van geloof - die verskil tussen huiwering en vertroue.


Die regeringsamptenaar kom na Jesus toe, nie met volle geloof nie, maar met hoop. Hy glo nie in Jesus as Messias nie, maar as iemand wat sy seun kan genees. En tog, Jesus ontmoet hom waar hy is. Hy vra nie volmaakte geloof nie. Hy begin waar ons broos is, maar Hy los ons nie daar nie.

Toe die man by die huis kom en sien sy seun is gesond, verander sy geloof. Hy glo nie meer net in Jesus se vermoë om te genees nie. Hy glo in Jesus as Redder. Sy geloof het gegroei van kruip tot singend jaag. Só wil die Here ook hê dat ons ons volle gewig op Hom sal plaas - nie net ons hoop nie, maar ons hele lewe.


God se wonders is nie beperk tot genesing nie. Die grootste wonder is dat ons kan glo in ’n liefdevolle, genadige God wat sy liefde aan ’n kruis bewys het. Mag ons geloof elke dag groei: dieper, sterker, vryer. Mag ons leer om te jaag oor die ys, wetende dat die ys hou, want ons Rots is vas


En mag ons ook leer om die ander wonders raak te sien: ’n sonsopkoms, ’n roos, ’n kind se lag. Albert Einstein het gesê: “Jy kan leef asof niks ’n wonder is nie, of asof alles een is.” Ek kies om alles as ’n wonder te sien. En jy?


Gebed

Here, dankie vir al die baie wonders - groot en klein – oral om my. Maak asseblief my oë oop daarvoor en my hart ontvanklik. Ek wil erkenning gee aan elkeen van hulle en U daarvoor te loof. Amen.

Comments


bottom of page