top of page

God wat wondere doen: vir Hom is niks onmoontlik nie

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • 3 days ago
  • 2 min read



Dag 1


Johannes 9:1-11


God wat wondere doen: vir Hom is niks onmoontlik nie


Ons neem ons sig dikwels as vanselfsprekend. Dis moeilik om ’n wêreld sonder lig voor te stel. In Johannes 9 lees ons van Jesus wat ’n man genees wat van geboorte af blind was: ’n wonderwerk van buitengewone kompleksiteit.

Selfs die eenvoudigste prosesse in die oog is ongelooflik ingewikkeld. Die retina doen bykans 10 biljoen berekeninge per sekonde voordat ’n beeld deur die optiese senuwee na die visuele korteks gaan. By ’n mens ontwikkel sig in die baarmoeder wanneer een miljoen senuwees uit die brein en een miljoen uit die oë mekaar vind -elkeen met ’n spesifieke ‘maatjie’. Wanneer hulle verbind, ontstaan sig.


Maar by hierdie man het daardie proses nooit plaasgevind nie. Daar was geen sinaptiese konneksie tussen sy oë en brein nie. Jesus het dus nie net oë genees nie - Hy het as’t ware die man se brein “herbedraad” en ’n sinaptiese pad geskep wat nooit bestaan het nie.

Die man se blindheid was onomkeerbaar. Sy venster van geleentheid om ooit te kon sien was menslik gesproke verby. Maar dis juis wanneer Jesus sy grootste wonderwerke doen - wanneer iets onmoontlik lyk. Want wanneer Jesus deel is van die prentjie, is niks onmoontlik nie.

Dink aan Sara en Abraham. Hulle venster om ’n kind te hê was lankal verby, maar God het ’n bonatuurlike geleentheid geskep en sy belofte nagekom. Miskien voel jy ook dat jy ’n venster gemis het. Jy dink dis te laat, dit is verby, dit sal nooit weer regkom nie. Maar God kan ’n nuwe sinaptiese pad maak, of ’n oue herstel. Hy is die God van tweede, derde - selfs duisendste kanse.

Dis nooit te laat nie. Nooit te moeilik, te groot of te klein nie. As Jesus deel is van die prentjie, moet jy nooit sê “nooit” nie.


Soos Hy vir die blinde man hoop gebring het in ’n wêreld van duisternis, bring Hy ook hoop vir jou en my. Hou daaraan vas.


Gebed:

Here, ek sien nie juis ‘n uitkoms nie. Alles voel so verlore. Ek voel so vasgeloop en sonder hoop. Dankie dat U my vandag weer kom herinner, dat wanneer ek U deel maak van die prentjie, bring U alles in ‘fokus’ en is daar altyd hoop. Amen.

Comments


bottom of page