top of page

Kinderloosheid: "Die Pyn en die Hoop"

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • Apr 28
  • 2 min read

Hanna (1 Sam.1:2) het geworstel met wat so baie vroue vandag mee worstel – kinderloosheid. In Hanna se dag en tyd was dit vir ‘n vrou in die Hebreeuse kultuur ‘n groot skande om nie kinders te hê nie. Dit het groot pyn in Hanna se hart en gemoed veroorsaak. Sy het God dag en nag gesmeek vir ‘n kindjie. Peninna, Elkana se ander vrou, het wel kinders gehad en sy het nie ‘n geleentheid laat verbygaan om Hanna se neus daarin te vryf nie. So voel baie vroue vandag wat kinderloos is die pyn, wanneer hulle ‘n vriendin se baba-tee moet bywoon, elke doop en eerste verjaarsdag van ‘n ander ma se kleinding. Telkens word hulle aan die pyn herinner.

Maar die verskil in Hanna se lewe is, sy het nie ophou bid nie. Sy het aanhou om te bid en die Here te vertrou. Sy het ‘n belofte aan die Here gemaak dat as die Here haar sou seën met ‘n kind, sy Hom aan die Here sou wy. Die Here het, soos ons weet, haar gebed verhoor en sy was verheug.


In Hanna se geval is haar gebed beantwoord. In ons geval antwoord die Here dalk nie altyd ons gebede soos ons vra nie. En ons verstaan nie altyd hoekom nie. Dit bring baie keer meer vrae as antwoorde na vore in ons lewe.


Maar waar wil die Here jou en my uitbring? Die Here wil ons uitbring by ‘n plek waar Hy ons diepste begeerte is. Waar ons soeke na Hom rou en opreg is. Waar ons gebed soms ‘n skree is, maar waar ons steeds Hom bly vra vir perspektief en steeds bly glo dat Sy Woord antwoorde het. God wil hê dat Sy Woord vir ons lewendig sal word, vol fluisteringe van wie Hy is en wat Hy in ons lewens wil doen. ‘n Gedeelte soos Psalm 42, “Soos ‘n wildsbok wat smag na water smag my siel na U o God...”, klink poëties en liries wanneer die lewe werk en alles goed gaan, maar wanneer jou liggaam siek is en jou gees gebroke, word jy die wildsbok wat smag.

In sulke tye, wanneer ons dan God se Naam sê, wek dit emosie en Sy Woord voel minder en minder soos ‘n historiese teks wat ek lees en meer soos ‘n lewensaar waarvan ek lewe tap. Wanneer ons by die punt kom om te besef dat wanneer God nie dadelik my gebede verhoor nie, dit God se manier is om my hart te soek sodat dit aan Hom kan behoort. Hy maak ons binneste lewendig. Ons kan nie die tipe belewenis van God hê en terselfdertyd bitter wees nie.

Pyn ontbloot ‘n honger wat ons in ons binneste het na God, wat ons andersins nie sou ontdek het nie. Hy wil so graag hê dat ons Hom sal leer ken, maar nie net leer ken nie, maar ook volg. Om die vrou te wees wat by Sy voete sit. Die een te wees wie se prioriteite skuif – wie se prioriteite eenvoudig God is.


Kom ons hou nie op met bid nie, hou nie op om God se perspektief op ons lewe te soek nie en sy vrede te ervaar.


Opmerkingen


bottom of page