top of page

Mei Maand: Die maand waarin ons Ma-wees vier

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • Apr 23
  • 2 min read

Updated: May 1


Pos beskikbaar: “Salaris: Koue Koffie en Drukkies – Werkure: Eindeloos!”


DRINGEND: Pos Beskikbaar! Werk van die Huis af!


Droom jy daarvan om van die huis af te werk? Wel, hou op droom — hier’s jou kans! Ons adverteer ’n splinternuwe posisie vir ’n legendariese “multitasker”:


  • Kok. Wasgoedoperateur. Wiskunde-onderwyser - sy moet Wiskunde minstens tot Graad 6 kan verduidelik (sonder om self in trane uit te bars).

  • Skrywer: sy moet kreatiewe opstelle kan skryf, en Ekspo-take kan uitdink wat Einstein jaloers sou maak.

  • Sy moet ook beskik oor die vaardigheid van ‘n “verhoudingskonsultant” – wanneer maatjies baklei of boelie. En as boeta of sussa verlief raak en skielik dink hulle het hul ewige sielsgenoot op die netbalbaan ontmoet, moet sy bereid wees om liefdesadvies te gee — sonder om te lag of haar oë te rol.

  • Die aansoeker moet oor basiese noodhulpvaardighede beskik. Sy moet stukkend knieë en harte kan dokter.

  • Sy moet vloermoere (“tantrums”) kan ontlont, huilsessies kan hanteer en tienerhormone kan “ignoreer”.


Kwalifikasies sluit in:

  • Die vermoë om drie dinge tegelyk te doen (soos om aandete te maak terwyl jy huiswerk verduidelik én ’n huilende peuter troos).

  • 'n Graad in: Konflikbestuur tussen boeties en sussies.

  • Geduld van 'n monnik en uithouvermoë van 'n Comrades-maratonwenner.

  • Vaardigheid om 'n verjaarsdagpartytjie te reël... binne 24 uur... met 'n begroting van R250... en 'n koek wat lyk soos 'n eenhoring (selfs al is dit net 'n sponskoek met smarties).

  • Sy moet ook ‘n absolute boffen op Pinterest wees.

  • En ‘n Meestersgraad in liefde hê.


Bykomende vereistes:

  • Vermoë om tantrums, tienerdramas en swak toetspunte kalm te hanteer, sonder om jou eie “tantrum” te gooi.

  • Kan slaap met een oog oop en eet koue kos met 'n glimlag.


Werksure: 24/7/365. (Vakansiedae? Net ’n mite.)


Salaris: R0 – R0 (ons bied vir jou 'n "betaling" in spontane drukkies, nat soentjies en hope wasgoed).


Voordele: Onskatbare liefde, onvergeetlike herinneringe... en ’n baie spesiale plek in die Hall of Fame van Superhelde.

Aansoekers wat verwag om koffie warm te drink of toilet toe te gaan sonder ’n gehoor of ‘n gevolg, hoef nie aansoek te doen nie.


Ja-nee, as ma’s regtig betaal moes word vir alles wat hulle dag na dag doen, sou hulle onder die hoogste besoldigde mense in die arbeidswêreld wees. Ons kla soms tong-in-die-kies, maar diep in ons harte weet ons: as ons weer kon kies, sou ons ons kinders honderd keer oor kies — sonder twyfel.

Waardeer die kosbare geskenke wat die Here vir jou “geleen” het. Neem nooit die tyd saam met jou kinders — of hulle nou groot of klein, oud of jonk is — as vanselfsprekend nie. Leef voluit in elke oomblik, en koop die tyd uit, want hierdie dae is kort en kosbaar.


Comentarios


bottom of page