DIE GAWE OM TE KAN LUISTER
- Janine Bevolo-Manders
- 2 days ago
- 1 min read

Moenie die glasmuur probeer breek nie
Sommige jong volwassenes het geleer om hulleself agter ’n onsigbare glasmuur te beskerm.
Daardie muur kan soos sinisme, sarkasme, stilte of kort antwoorde lyk. Dit kan klink soos: “Ek is okay,” “Dit maak nie saak nie,” of “Ek het niemand nodig nie.”
Van buite af kan hierdie gedrag ongeskik, rebels of ongeïnteresseerd lyk. Maar soms vertel dit ’n ander verhaal. Die persoon het dalk seergekry. Hulle vrae is moontlik as opstandigheid afgemaak. Hulle het dalk gevoel daar is net plek vir hulle wanneer hulle reg optree. Miskien het niemand gevra wat met hulle gebeur het toe hulle begin wegbeweeg het nie.
Die glasmuur is dan nie bloot weerstand nie. Dit is selfbeskerming.
Ons eerste taak is nie om die muur met argumente, raad of skuldgevoelens af te breek nie. Ons taak is om só betroubaar en teenwoordig te wees dat die persoon mettertyd self ’n venster durf oopmaak.
Dit is waar empatie belangrik word.
Empatie beteken nie ons staan op ’n veilige afstand en sê: “Ag shame, dit klink darem erg” nie. Empatie beteken ons kom sit as ’t ware saam met iemand op die randsteen van hulle lewe.
Ons probeer nie die emosie onmiddellik regmaak nie. Ons plak nie te vinnig ’n Bybelvers oor iets wat nog bloei nie. Ons sê eerder: “Ek wil probeer verstaan hoe dit vir jou voel.”
Jong volwassenes kan vinnig aanvoel wanneer iemand net ’n mooi antwoord gee. Hulle weet ook wanneer iemand werklik teenwoordig is.
Soms is die grootste geskenk wat ons kan gee nie ’n oplossing nie, maar ’n veilige ruimte waarin iemand nie hulle pyn hoef weg te steek nie.
Comments