top of page

Kry jou stem weer terug! Wie of wat het jou stem gesteel?

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • Sep 17
  • 5 min read
ree

Jy het waarskynlik al van Maya Angelou gehoor - of dalk een van haar aanhalings raakgelees wat jou aangegryp het. Sy het dinge gesê soos:


Ek het geleer dat mense sal vergeet wat jy gesê het, mense sal vergeet wat jy gedoen het, maar hulle sal nooit vergeet hoe jy hulle laat voel het nie.”


“You may not control all the events that happen to you, but you can decide not to be reduced by them.”


Maar wie was sy, regtig? Wat het haar gevorm tot dié stem wat soveel mense se harte aangeraak het?


Maya Angelou is in 1928 in St. Louis, Missouri, gebore as Marguerite Annie Johnson. Haar kinderjare was allesbehalwe eenvoudig. Ná haar ouers se egskeiding is sy en haar broer Bailey tussen verskillende familielede rondgeskuif, en uiteindelik het hulle by hul ouma in Stamps, Arkansas, gaan woon. Dit was ’n plek van rassespanning, maar ook van stabiliteit en die eerste vonk van literêre liefde.


Op agtjarige ouderdom het Maya teruggekeer na haar ma in St. Louis. Daar het haar lewe ’n donker wending geneem toe haar ma se kêrel, Freeman, haar seksueel misbruik en verkrag het. Hy het haar gedreig om haar broer te vermoor as sy iets sou sê. (Soos sulke mans tipies doen.) Ten spyte van die dreigement het Maya haar broet vertel. Bailey het dit aan die familie oorgedra. Freeman is gearresteer, maar het slegs een dag in die tronk deurgebring. Vier dae later is hy vermoor - waarskynlik deur familielede.


Maya het geglo dat haar woorde sy dood veroorsaak het. En so het sy besluit om vir vyf jaar nie te praat nie. Sy het in stilte geleef, maar haar innerlike wêreld het gegroei. Sy het boeke verslind, poësie gememoriseer, en haar gedagtes begin neerskryf. Haar stem was stil, maar haar siel het begin sing.


Toe kom Bertha Flowers, ’n onderwyseres wat Maya se potensiaal raakgesien het. Sy het haar aangemoedig om haar gedigte hardop te lees. En toe gebeur dit - Maya se stilte is gebreek. Haar stem het teruggekeer. En daarmee het sy ’n stem geword vir duisende ander.


Sy het nie net geskryf nie - sy het geveg. Sy was ’n aktivis in die tyd van Martin Luther King Jr., en haar woorde het lig gebring in donker tye. Sy het haar stem weer gevind, en dit gebruik om ander te help hulle s’n te vind.


Haar verhaal herinner ons dat die Here jou stem ook kan herstel. Selfs ná trauma.

Wat steel vandag ons stem? Wat laat ons verdwyn in die agtergrond, fluister wanneer ons wil skree, swyg wanneer ons wil leef?


Vir baie van ons het die stilmaak al vroeg begin.


Ons het dalk gehoor:

•           “Kinders moet gesien word, nie gehoor nie.”

•           “Niemand gee om wat jy dink nie.”

•           “Jou stem tel nie.”

•           “Ag, wat weet jy nou?”


Soms is dit nie woorde nie, maar houdings - ’n afgetrokke ouer, ’n kritiese onderwyser, ’n manipulerende verhouding.


Soms is dit trauma:

•           Seksuele misbruik

•           Geweld in die huis

•           Die verlies van ’n geliefde

•           Alkoholmisbruik

•           Vergelyking met ander

•           Vrees dat jy nie goed genoeg is nie


En dan is daar die subtiele stilmakers:

Die gevoel dat jy nie slim genoeg is nie

Die idee dat ander altyd beter praat, beter weet

Die innerlike stem wat fluister: “Moenie nou iets sê nie, jy gaan net jou naam met 'n plank slaan.”


Maar hier is die waarheid:

Jy is nie bestem tot ’n lewe van stilte nie.

Niemand het die reg om jou stem te steel nie.

Jy het ’n stem en dit tel.


Hoe kry jy jou stem terug?

Die goeie nuus is: jou stem is nie weg nie - dit wag om weer gehoor te word. Hier is maniere om dit te begin terugvind:


·         Gebed: Natuurlik gebed. Praat met die Here wat jou deur en deur ken. Hy het jou stem gegee. Hy sal jou help om dit terug te neem.


·         Kuns: Kuns is ’n manier om jou uit te leef en om te verwoord wat binne-in jou leef. Dit wat jy dalk nog nie in woorde kan sê nie, kan jy uitdrukking aan gee deur te verf, skilder, teken, pottebakkery, “scrapbooking” – ai, daar is baie vorme van kuns – enige iets wat vir jou lekker is. Kuns gee vorm aan dit, waarvoor jy nog nie woorde het nie.


·         Skryf: poësie, gedigte, rym en ritme – kan jou help om iets te verwoord wat binne jou woel. Jy kan selfs liedjies skryf; ’n blog begin of jou eie joernaal hou. Woorde help jou om jouself weer te hoor.


·         Vertel jou storie: Genesing kom dikwels wanneer jy jou waarheid deel. Wat ons dikwels sien wanneer iemand deur trauma gaan, is hulle deel hulle storie met ander. Dalk wonder jy – hoe kan hulle dit wat met hulle gebeur het deel, dis dan so verskriklik!? Maar dis juis waar daar vir baie genesing in lê. Juis om dit vir ander te vertel. In ’n veilige ruimte, met ’n luisterende gehoor, begin jou stem weer leef.


·         Gemeenskap: Soek mense wat jou sien, jou hoor, jou dra. Jou stem groei in verhouding, nie in isolasie nie.


·         Ondersteuningsgroepe: Om met ander te praat wat soortgelyke ervarings gehad het, bring erkenning en aanmoediging.


·         Teater en storie-vertelling: Om ’n karakter te speel of jou eie storie te vertel op ’n verhoog kan ’n kragtige  daad van selfbevestiging wees.


·         Liggaamsgerigte Genesing, soos somatiese terapie, help ons om nie net met ons gedagtes en emosies te werk nie, maar ook met die liggaam se geheue van pyn en trauma. Want soms dra die liggaam wat die hart nie kan verwoord nie. Deur tegnieke soos asemhaling, beweging en bewustheid, begin mense weer voel én praat.


·         Joga en meditasie help jou om stil te raak binne, sodat jy weer jou eie stem kan hoor en met jouself in voeling kan kom.


·         Mentorskap en bediening: Wanneer ’n persoon ander begin help, ontdek hy/sy dikwels dat hulle stem nie net vir hulleself is nie, maar vir genesing van ander ook.


·         Kennis en Selfontdekking: Lees en leer. Boeke oor trauma, identiteit en geloof kan ’n persoon help om hulle storie in ’n groter narratief te plaas.


·         Terapeutiese begeleiding bied ’n veilige plek waar ’n persoon hulle storie kan deel - nie net om gehoor te word nie, maar om dit opnuut te verstaan en betekenis daaraan te gee.


·         Simboliek: Rituele en seremonies. Sommige persone gebruik iets simbolies - soos om ’n brief te skryf en te verbrand of op te skeur, ’n naam te herroep, ‘n klip in die see te gooi, ’n kers aan te steek, iets te plant of ’n plek te besoek - as ’n manier om hul stem terug te eis.

  

Om jou stem terug te kry is nie net ’n proses nie – dit is ’n heilige reis. ’n Reis van herstel, herontdekking en herverbinding. En jy hoef dit nie alleen te doen nie.


Soos Maya, kan jy weer praat.

Jy kan weer leef.

Jy kan weer glo.


Jy is nie gemaak vir ’n lewe van stilte nie. Jou stem dra gewig, dra waarheid, dra hoop. En selfs al was dit stil vir ’n tyd, dit is nie verlore nie.


Die Here fluister: “Ek het jou geroep, jy is Myne.”


Hou daaraan vas.

 
 
 

Recent Posts

See All
Leesplan op YouVersion

https://www.bible.com/reading-plans/61717-god-wat-wondere-doen-niks-is-vir-god-onmoontlik-

 
 
 

1 Comment


nelsoekie
Sep 17

Dis so n interessante verhaal, dankie Janine. En insoirerend

Like
bottom of page