top of page

Redes waarom jongmense die kerk skynbaar verlaat

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • 17 minutes ago
  • 4 min read


Waarom dryf jong volwassenes van die kerk af weg?


Vir baie ouers, predikante en jeugwerkers is dit nie bloot ’n interessante navorsingsvraag nie. Dit is persoonlik.


Dit is jou kind wat eens met groot entoesiasme kategese bygewoon het, maar nou nie meer kerk toe wil gaan nie. Dit is jou kleinkind wat op ’n kamp ’n geloofsbesluit geneem het, maar vandag sê dat geloof nie meer vir hom of haar belangrik is nie. Dit is daardie jongmens wat eens betrokke was, vrae gevra en gedroom het, maar nou stilweg op ’n afstand staan.

Ons eerste reaksie is dikwels om te vra: “Wat het met hierdie jongmense gebeur?” Soms wil ons hulle reghelp, terugpraat of waarsku. Ons dink dalk: “Maar hulle is mos reg grootgemaak. Hulle weet mos van beter.”


Tog help hierdie reaksie ons nie noodwendig om hulle te verstaan nie.

’n Beter vraag is dalk nie: “Wat is verkeerd met jong volwassenes?” nie, maar eerder: “Wat probeer hulle vir ons sê?”


David Kinnaman wys in sy boek You Lost Me daarop dat baie jong volwassenes nie noodwendig vir Jesus verwerp het nie. Hulle voel eerder dat die kerk hulle nie verstaan nie, nie na hulle luister nie of nie weet waar hulle inpas nie.


Nie almal dryf op dieselfde manier weg nie


Daar is jong volwassenes wat stadig van die kerk af wegdryf, maar hulleself steeds as Christene beskou. Hulle is nie noodwendig kwaad of vyandig nie. Geloof het net al hoe verder na die kantlyn van hulle lewe geskuif.


Hulle sal dalk sê: “Ek glo nog in God, maar ek dink nie ek hoef kerk toe te gaan nie.” Of: “Ek is geestelik, maar ek hou nie van georganiseerde godsdiens nie.” Die kerk voel vir hulle nie noodwendig verkeerd nie - net irrelevant.


Kinnaman beskryf hierdie groep as nomades. Hulle het nie heeltemal van geloof afstand gedoen nie, maar hulle het nie meer ’n vaste geestelike tuiste nie.


Dan is daar jong volwassenes wat hulle kinder- of tienergeloof heeltemal verwerp. Hulle sal sê: “Ek glo nie meer nie,” of: “Ek is klaar met die kerk.” Hierdie groep word soms as prodigals beskryf.

Dit is dikwels baie pynlik vir families. ’n Ouer voel maklik skuldig en wonder waar dinge verkeerd geloop het. ’n Gemeente wonder waarom al die jare se bediening skynbaar geen verskil gemaak het nie.


Maar voordat ons probeer antwoord, moet ons eers luister. Was daar ’n geloofskrisis? Was hulle deur ’n kerkleier teleurgestel? Het hulle moeilike vrae gehad waarop niemand wou reageer nie? Het hulle die kerk as onveilig, oneerlik of veroordelend beleef?

Hulle storie moet gehoor word voordat dit beoordeel word.


’n Derde groep bestaan uit jong volwassenes wat steeds ernstig oor Jesus is, maar nie tuis voel in die institusionele kerk nie. Hulle wil hulle geloof in hulle werk, studies, kuns, wetenskap, verhoudings en gemeenskap uitleef, maar ervaar dat die kerk nie altyd weet wat om met hulle gawes of vrae te doen nie.


Hierdie jongmense word soms ballinge genoem.

Hulle sê nie noodwendig: “Ek het Jesus verloor” nie. Hulle sê eerder: “Ek weet nie of die kerk weet waar ek inpas nie.”


Weggaan gebeur dikwels stadig


Jong volwassenes staan selde een oggend op en besluit skielik dat hulle niks meer met die kerk te doen wil hê nie. Dit gebeur dikwels geleidelik.

Hulle begin minder gereeld kerk toe gaan. Hulle raak stiller in gesprekke oor geloof. Hulle vra ’n moeilike vraag en ontvang ’n vinnige antwoord. Hulle ervaar dat hulle twyfel mense ongemaklik maak. Hulle voel nie hulle gawes word raakgesien nie. Later hou hulle eenvoudig op om te probeer. Teen die tyd dat die gemeente agterkom hulle is weg, het hulle dalk reeds maande of jare lank emosioneel op ’n afstand gestaan.


Daarom moet ons nie net vra wanneer hulle weggegaan het nie. Ons moet vra wanneer hulle begin voel het dat hulle nie meer behoort nie.

Was hulle kwaad, moeg, teleurgesteld of seergemaak? Het hulle gevoel dat hulle net aanvaar word wanneer hulle saamstem? Het iemand ooit rustig genoeg geword om werklik na hulle te luister?


Van paniek na nuuskierigheid


Wanneer ’n jong volwassene van die kerk af wegdryf, is paniek ’n verstaanbare reaksie. Maar paniek laat ons dikwels beheer, preek en druk uitoefen. Dit laat ons dinge sê soos: “Jy weet wat reg is,” of: “Jy moet net weer begin kerk toe gaan.” Wat hulle dalk eerder nodig het, is iemand wat vra: “Vertel my wat gebeur het.”


Nie ’n debat nie. Nie ’n preek nie. Nie skuldgevoelens nie. Net ’n eerlike gesprek.

Wanneer ’n jongmens sê: “Die kerk beteken niks meer vir my nie,” kan ons vra: “Wat het gemaak dat dit vir jou irrelevant begin voel het?”


Wanneer iemand sê: “Ek glo nie meer soos vroeër nie,” kan ons vra: “Hoe lank worstel jy al hiermee?” Wanneer iemand sê: “Ek voel nie ek pas in die kerk nie,” kan ons vra: “Wat het gemaak dat jy so voel?”


Die doel is nie om elke mening goed te keur nie. Die doel is om die mens agter die mening raak te sien. Miskien het die kerk nie net beter antwoorde nodig nie. Miskien het ons ook beter ore, meer geduld en ’n dieper teenwoordigheid nodig.


Wanneer jong volwassenes sê: “Julle het my verloor,” beteken dit nie altyd: “Ek wil nooit weer gevind word nie.”


Soms beteken dit bloot: “Ek wens iemand het vroeër geluister.”

Comments


bottom of page