top of page

Jong Volwassenes: Geloof en die Kerk

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • 1 day ago
  • 2 min read


Waarom neem dit vandag langer om “groot te word”?


In vorige generasies het die pad na volwassenheid dikwels eenvoudig gelyk.

Jy het skool klaargemaak, begin werk, getrou, ’n huis gekoop en kinders gehad. Hierdie mylpale het gewoonlik redelik vroeg en in ’n voorspelbare volgorde plaasgevind.


Vandag lyk die pad baie anders.


Baie jong volwassenes studeer langer, verander meer gereeld van loopbaan, bly langer by hulle ouers en bereik eers later finansiële onafhanklikheid. Vaste werk, huwelik, huiseienaarskap en gesinsvorming gebeur dikwels heelwat later as wat dit vir vorige geslagte gebeur het.


Navorsers beskryf hierdie verskynsel soms as “verlengde adolessensie” of ’n verlengde oorgang na volwassenheid.


Dit is egter belangrik om te verstaan dat hierdie situasie nie altyd die gevolg van luiheid, onverantwoordelikheid of ’n gebrek aan ambisie is nie.


Jong volwassenes leef in ’n wêreld van hoë lewenskoste, werkloosheid, tydelike kontrakte, duur studies en groot ekonomiese onsekerheid. Selfs jongmense met kwalifikasies sukkel soms om werk te kry. Ander kry wel werk, maar verdien nie genoeg om onafhanklik te woon nie.


In Suid-Afrika is hierdie uitdagings besonder sigbaar. Baie jong volwassenes doen alles wat van hulle verwag is, maar vind steeds dat die tradisionele mylpale van volwassenheid buite bereik bly. Dit kan tot frustrasie, skaamte en ’n gevoel van mislukking lei. Hulle kyk na ander mense op sosiale media wat blykbaar reeds suksesvolle loopbane, huwelike, huise en avontuurlike lewens het. Dan wonder hulle: “Wat is fout met my? Hoekom is ek nog nie daar nie?”


Hierdie onsekerheid beïnvloed meer as net hulle finansies. Dit raak ook hulle identiteit en geloof.

Wanneer ’n mens nie weet waar jy oor ’n jaar gaan werk of woon nie, raak vrae oor roeping en God se plan moeiliker. Wanneer jy herhaaldelik vir poste aansoek doen sonder sukses, kan dit jou selfwaarde begin aantas. Wanneer jy langer van jou ouers afhanklik bly, kan jy voel dat jy nie werklik as ’n volwassene erken word nie.


Die kerk moet versigtig wees om nie bloot die verwagtinge van ’n vorige generasie op vandag se jong volwassenes af te dwing nie. Ons moet vra of die wêreld waarin hulle leef, anders is as die wêreld waarin ons grootgeword het.


Jong volwassenes het nie net programme nodig nie. Hulle het mentorskap, praktiese ondersteuning en veilige gemeenskap nodig. Hulle het mense nodig wat hulle kan help om oor werk, geld, verhoudings en roeping te dink sonder om hulle te veroordeel.


Volwassenheid lyk vandag dalk anders, maar dit beteken nie dat jong volwassenes nie wil groei nie. Baie van hulle is diep ernstig oor hulle toekoms. Hulle probeer net om ’n weg te vind deur ’n wêreld wat minder voorspelbaar geword het.


Die kerk kan hier ’n besonder waardevolle rol speel: om nie jong volwassenes se hele lewe vir hulle te probeer beplan nie, maar om saam met hulle te stap terwyl hulle leer, kies, misluk, herstel en groei.


Vraag om oor na te dink: Watter verwagtinge oor volwassenheid dra jy uit jou eie grootword jare saam -  en is dit steeds billik om dit vandag op jong volwassenes toe te pas?

Comments


bottom of page