Jong Volwassenes: Geloof en die kerk
- Janine Bevolo-Manders
- 3 hours ago
- 2 min read

Wat beteken dit om in ’n “Digitale Babilon” te leef?
In die Ou Testament lees ons van Daniël en sy vriende wat uit Jerusalem weggevoer en in Babilon geplaas is.Jerusalem was die plek waar hulle geloof gevorm is. Daar was hulle families, tradisies en geloofsgemeenskap. In Babilon het alles anders gelyk: die taal, waardes, gebruike, gode en verwagtinge.
Hulle nuwe omgewing het voortdurend probeer om hulle identiteit te hervorm. Daniël en sy vriende moes leer hoe om in daardie vreemde wêreld te leef sonder om hulle geloof en identiteit te verloor.
Wanneer mense vandag van ’n “Digitale Babilon” praat, bedoel hulle nie dat tegnologie noodwendig boos is nie. Die beeld help ons eerder verstaan hoe jong volwassenes probeer om geloof uit te leef binne ’n kultuur wat voortdurend hulle aandag, identiteit en lojaliteit probeer vorm.
Gen Z is die eerste generasie wat volledig binne ’n digitale wêreld grootgeword het.
Hulle ken nie ’n wêreld sonder die internet, slimfone, sosiale media, streaming en konstante toegang tot inligting nie. Die digitale wêreld is nie net iets wat hulle gebruik nie. Dit is die omgewing waarin hulle leer, kommunikeer, verhoudings bou en hulle identiteit vorm.
Elke dag word hulle aan ’n eindelose hoeveelheid stemme blootgestel.
Een video sê vir hulle hoe hulle moet lyk. ’n Ander plasing sê wat sukses behoort te beteken. ’n Aanlyn persoonlikheid vertel hulle hoe verhoudings werk. Kommentaar afdelings besluit wie aanvaarbaar of onaanvaarbaar is. Algoritmes bepaal watter boodskappe hulle weer en weer sien.
Hierdie digitale wêreld beïnvloed hoe jongmense dink oor wie hulle is, waar hulle behoort, wat waarheid is, wat sukses beteken en selfs wie God is.
Dit beteken nie dat alles aanlyn negatief is nie.
Jong volwassenes kry toegang tot kennis, ondersteuning en gemeenskappe wat vorige generasies nooit gehad het nie. Hulle kan kreatief skep, nuwe vaardighede aanleer, onreg uitwys en kontak maak met mense regoor die wêreld.
Maar konstante konneksie het ook ’n prys.
Daar is min stilte. Min ruimte om te verwerk. Min oomblikke waarin niemand iets van jou verwag nie. Vergelyking gebeur nie meer net met die mense in jou klas of buurt nie, maar met duisende mense wêreldwyd. Dit kan jong volwassenes laat voel dat hulle altyd agter is, dat hulle nie mooi, suksesvol, gelukkig of interessant genoeg is nie.
Daarom help dit nie om bloot vir hulle te sê: “Sit jou foon neer” nie.
Hulle het begeleiding nodig om te leer hoe om binne die digitale wêreld te leef sonder om deur die digitale wêreld beheer te word. Hulle moet leer om stemme te onderskei, gesonde grense te ontwikkel en hulle identiteit dieper as aanlyn goedkeuring te anker.
Soos Daniël het hulle geloofsgemeenskappe nodig wat hulle help om wys, geanker en getrou te leef.
Die kerk kan nie voorgee dat die digitale wêreld nie bestaan nie. Ons moet jong volwassenes help om God juis binne hierdie wêreld raak te sien en te volg.
Vraag om oor na te dink:Wat alles kom deur die foon van die jong volwassenes in jou lewe by hulle uit - en hoe help jy hulle om dit te verwerk?



Comments