top of page

DIE GAWE OM TE KAN LUISTER

  • Writer: Janine Bevolo-Manders
    Janine Bevolo-Manders
  • 22 hours ago
  • 1 min read


Wat Jesus ons oor luister leer


Wanneer ons wil leer om beter te luister, begin ons nie noodwendig by ’n kommunikasietegniek nie. Ons kan by Jesus begin. Jesus het geweet wat in mense se harte aangaan, maar Hy het steeds vrae gevra. Hy het nie altyd onmiddellik verduidelik, reggestel of raad gegee nie. Hy het mense die ruimte gegee om hulle eie stories, pyn en behoeftes te verwoord.


Dink aan die Emmausgangers. Jesus het presies geweet wat in Jerusalem gebeur het, maar Hy het nie die gesprek begin met ’n lang verduideliking oor die opstanding nie. Hy het gevra waaroor hulle praat. Hy het hulle toegelaat om hulle teleurstelling en verwarring uit te spreek.

Toe Bartimeus na Hom roep, het Jesus gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die antwoord het dalk vanselfsprekend gelyk, maar Jesus het hom die waardigheid gegee om sy eie behoefte te verwoord.


By die Samaritaanse vrou het Jesus nie met veroordeling begin nie. Hy het gaan sit, water gevra en ’n gesprek begin.


Dit is die Jesus-skool van luister: Jesus hoor nie net mense se woorde nie; Hy hoor ook hulle wonde.

Wanneer ’n jongmens sê: “Ek wil nie meer kerk toe gaan nie,” kan ons net die woorde hoor. Of ons kan wonder wat daaronder lê. Is daar teleurstelling? Twyfel? Eensaamheid? Seerkry? Het die persoon gevoel niemand het hulle gemis nie?


Goeie luister vra dus nie net: “Wat sê hierdie persoon?” nie.


Dit vra ook: “Wat probeer hierdie persoon sê wat hulle nog nie heeltemal regkry om te verwoord nie?”

Comments


bottom of page