Die Kuns om te Luister

Luister jy om te verstaan of luister jy om te antwoord?
Hoe goeie luisteraar is jy werklik? Die meeste van ons dink ons luister redelik goed. Ons knik, maak oogkontak en sê op die regte plekke: “Mmm…” en “Ek verstaan.” Ons sit selfs ons selfoon onderstebo op die tafel om te wys dat ons aandag gee.
Maar terwyl die ander persoon nog praat, gebeur daar dikwels iets anders in ons gedagtes. Ons begin reeds oplossings formuleer. Ons dink aan raad wat ons kan gee, ’n soortgelyke ervaring uit ons eie lewe of ’n Bybel vers wat perfek by die situasie sal pas.
Ons luister nie noodwendig om te verstaan nie. Ons luister om te antwoord.
Jong volwassenes kom dit vinnig agter. Hulle weet wanneer iemand werklik teenwoordig is en wanneer iemand net wag vir ’n kans om raad te gee. Hulle het nie altyd nóg ’n stem nodig wat vir hulle vertel wat hulle moet doen nie. Dikwels het hulle bloot iemand nodig wat lank genoeg stil kan bly om te hoor wat onder die oppervlak aangaan.
Goeie luister begin daarom nie by die regte antwoord nie. Dit begin by teenwoordigheid. Dit beteken ek probeer nie die gesprek beheer, die probleem onmiddellik oplos of die persoon se emosies vinnig netjies maak nie.
Ek sê eerder: “Vertel my meer.”
Wanneer iemand werklik gehoor voel, begin hulle dikwels dinge sê wat hulle aanvanklik nie van plan was om te deel nie. Die eerste antwoord is immers dikwels net die voorportaal van die werklike verhaal.
Die belangrike vraag is dus nie net: “Het ek gehoor wat hulle gesê het?” nie.
Die vraag is: “Het hulle gevoel ek het hulle gehoor?”

Comments