Jou Gesindheid: Die Onsigbare Krag wat Alles Bepaal
- Janine Bevolo-Manders
- May 27
- 5 min read

Het jy al ooit regtig stilgestaan en gewonder watter gesindheid jy elke dag saam met jou dra? Jou algemene houding teenoor die lewe speel 'n groter rol as wat jy dalk besef. Dit beïnvloed jou werk, jou verhoudings, en selfs of jy jou volle potensiaal gaan bereik of nie.
Dink vir ’n oomblik daaroor: Watter gesindheid neem jy saam werk toe? Hoe tree jy op in jou verhoudings? Is jy oor die algemeen positief of negatief ingestel – en belangriker nog, is jy bewus van jou gesindheid? Baie mense is nie. Hulle stoei maar voort deur die dag, sonder om werklik ag te slaan op hoe hulle dink, voel en reageer. En dit is jammer, want gesindheid is nie net belangrik nie – dis amper alles.
Gesindheid en “selfpraat” gaan hand aan hand. Jy praat die hele dag lank met jouself – ja, jy is die persoon met wie jy die meeste gesels. Wat sê jy vir jouself? Is jy jou eie aanmoediger of jou grootste kritikus?
As jy sou dink aan iemand wat jou voortdurend kritiseer, aftakel en negatief is – sou jy graag daardie persoon se geselskap opsoek? Waarskynlik nie. Tog is dit presies wat baie van ons met onsself doen. Ons innerlike dialoog is dikwels vol selfkritiek, twyfel en selfsabotasie. Maar hier’s die goeie nuus: Jy het beheer daaroor.
Jy kan kies om daardie stem binne jou kop te verander – van ’n bron van selfbejammering na een van bemoediging, motivering en waarheid. Dis nie om die realiteite van die lewe te ontken nie. Die lewe is nie net vol rose en maanskyn nie – daar is ook dorings, dissels, hartseer en teleurstelling. Maar wat jy kan kies, is hoe jy daarop reageer.
Jou brein werk soos ’n rekenaar – dit verwerk wat jy daarin sit. As jy dit programmeer met negatiewe denke en pessimisme, sal jy die wêreld deur daardie lens sien. En raai wat? Die wêreld gaan jou ook só begin ervaar. Maar as jy jou “brein-rekenaar” voed met positiewe denke, hoop, en geloof – verander alles. Jou perspektief, jou optrede, en jou impak op ander.
Baie van hierdie denkpatrone is al van kindsbeen af gevorm. Party van ons is gelukkig en het van kleins af positiewe “sagteware” ontvang. Ander van ons het leuens geglo of is met negatiwiteit grootgemaak. Maar jy het nou die mag om daardie sagteware op te dateer – of selfs om God te vra vir ’n “factory reset.”
Dis Hy wat jou oorspronklik gemaak het, en in Sy Woord sê Hy wie jy werklik is. Prop weer in by Sy waarheid, en laat Hy vir jou ’n sagteware-opdatering gee. Jy kan letterlik ’n nuwe weergawe van jouself word – vry van ou, beperkende denke.
Onthou: Die stem wat jy die hardste hoor in jou lewe, is jou eie. Maak seker dit is ’n stem van liefde, waarheid en bemoediging – nie van veroordeling en twyfel nie.
Jy is jou eie grootste beïnvloeder/”influencer”. Maak seker jou gesindheid werk saam met jou, nie teen jou nie.
Hier is ‘n paar praktiese stappe vir jou om te neem om jou gesindheid te verbeter.
“Affirmations” – positiewe bevestigings of stellings omtrent jouself
Persoonlik werk die Engelse woord “affirmations” beter vir my as enige Afrikaanse alternatief. Maar wat is ’n “affirmation” regtig? Dis woorde met krag – gelaai met energie, oortuiging en geloof. Wanneer jy spesifieke affirmations daagliks herhaal, stuur jy doelbewus ’n positiewe boodskap na jou onderbewussyn toe. Jou onderbewussyn, wat nie tussen waarheid en leuen onderskei nie, begin glo wat jy sê – en reageer daarvolgens.
As jy dit konsekwent doen, begin jou denke verander. Jy voel anders. Jy tree anders op. Die doel is eenvoudig maar kragtig: om jou onderbewussyn te herprogrammeer met positiewe, lewensveranderende denke wat jou help om met selfvertroue en doelgerigtheid te leef.
Visualiseer jou pad na sukses
Topatlete. Wêreldklas-presteerders. Leiers in elke denkbare veld. Hulle het almal een kragtige hulpmiddel in gemeen: visualisering. Dis nie net ’n motiveringstegniek nie – dit is ’n beproefde strategie wat die brein voorberei vir prestasie.
Navorsing bewys herhaaldelik: wanneer jy jou doelwitte voor jou geestesoog sien, wanneer jy elke detail van sukses verbeel, stuur jy ’n duidelike boodskap aan jou brein – “dit is moontlik.” Of jy dit bewustelik of onbewustelik doen, visualisering slyp jou fokus, verskerp jou vaardighede, en verhoog jou kanse op sukses dramaties.
As jou brein dit kan sien, kan jou liggaam dit begin glo – en uitvoer.
Die Krag van Jou Woorde
Woorde dra gewig. Hulle bou op, of breek af. Elke keer as jy praat, saai jy óf lewe óf dood – oor jouself, oor ander, en oor jou toekoms. Dis hoekom dit só belangrik is om stil te staan by wat jy sê, want jou woorde is ’n direkte uitdrukking van wat in jou hart leef.
Die Bybel sê nie verniet: “Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor” nie. Wat jy glo oor jouself en oor die lewe, kom onherroeplik na vore in jou taal. As jy jouself gereeld hoor negatief, veroordelend of krities praat, is dit ’n teken dat dit tyd is vir ’n bietjie diep selfondersoek. Want die probleem lê nie net in jou woorde nie – dit lê in jou binneste.
Wanneer jy begin om jou hart te verander, verander jou woorde saam. En as jou woorde verander, verander jou wêreld.
Die Wonder van ’n "Positiewe Groet"
’n Klein groet het groot krag. Wanneer iemand vra: “Hoe gaan dit met jou?”, het jy ’n keuse. Jy kan vasval in die gewone, of jy kan die oomblik gebruik om lig te bring. Probeer iets soos: “Fantasties, dankie! En met jou?” — selfs al voel jy nie heeltemal so nie.
Daardie eenvoudige, positiewe reaksie doen meer as net woorde ruil. Dit lig die atmosfeer. Dit sit ’n glimlag op iemand se gesig. Mense hou daarvan om naby jou te wees, want jou teenwoordigheid herinner hulle daaraan dat die lewe, ten spyte van sy uitdagings, steeds ’n kosbare geskenk is.
’n Positiewe groet is soos ’n sonstraal – dit kos niks, maar dit beteken alles.
Prop in by jou Geestelike Bron
Soos wat jou liggaam daagliks voeding nodig het, het jou gees ook kos nodig — geestelike kos. Sonder dit raak jy leeg, moeg en geestelik uitgeput. Baie mense vind krag, rigting en motivering in hulle geloof. Ek is een van hulle.
Daarom is dit so belangrik om ingeprop te bly by jou geestelike bron van lewe. Vir ons as gelowiges is dit nie net ’n mooi idee nie — dis ’n lewenswaarheid: dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, is vandag tot jou en my beskikking (Ef.1:19-20) Dis nie ’n vae, veraf krag nie — dis ’n lewende, aktiewe krag wat in en deur jou kan werk.
Wanneer jy daagliks kies om in te prop by daardie Bron — deur gebed, die Woord en geloof — voed jy jou innerlike mens. En vanuit daardie plek van geestelike volheid, leef jy anders: met moed, hoop en ‘n diep innerlike sekerheid.
Lag – Die Hemelse Bruissout van die Lewe
As daar een ding is wat ons almal meer van kan gebruik, is dit humor. Hoe meer jy lag, hoe beter voel jy – nie net emosioneel nie, maar fisies ook. Lag verlaag stres, verminder angs en vul jou lewe met positiewe energie. Dis letterlik ’n natuurlike medisyne, sonder newe-effekte of 'n pryskaartjie.
Ons almal weet: die lewe is nie altyd ’n grap nie. Goeie mense ly. Dinge loop skeef. Die werklikheid is soms swaar. Maar juis daarom het ons lag nodig – soos ’n hemelse bruissout teen die sooibrand van die lewe.
Lag bring balans. Dit keer dat ons te ernstig, te sinies, of te vol van onsself raak. ’n Oog vir die snaakse dinge – selfs in moeilike tye – hou jou menslik, nederig en hoopvol. Dit maak die lewe draagliker en die swaarkry lighter.
En die mooiste deel? Lag kos niks. Dis gratis én aansteeklik.
’n Ou Indiese wysheid sê: “Dis amper onmoontlik om ’n medisyne te kry wat terselfdertyd goed is vir jou en ook lekker proe.” Maar lag? Lag is daardie uitsondering.
Onthou: Gesindheid is alles!
Comments